On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Arts

’Ag, om weer kruisbeen en verwonderd in ’n CNA te sit’ – Elize Parker

───   17:40 Mon, 24 Apr 2023

’Ag, om weer kruisbeen en verwonderd in ’n CNA te sit’ – Elize Parker | News Article
Elize Parker is ’n skrywer en boekwurm.

Met die oog op Wêreldboekedag bring die skrywer Elize Parker, ’n oud-Vrystater, hulde aan ’n geliefde winkel in Bloemfontein se middestad wat helaas lankal daarmee heen is, soos die meeste ander takke landwyd.

Hoe goed onthou ek nie die CNA van my kleintyd in Bloemfontein nie!

Die deur na die wêreld van boeke se sesverdiepinggebou was smal soos ‘n pond botter oorkant Hoffmanplein en die Poskantoor in Maitlandstraat met die ingang so effe terug geplaas van die straatingange. As advertensiebord was die drie rooi letters onder mekaar op ‘n meters hoë muurpilaar onder ‘n wapperende vlag.

En ek sou afwagtend aan my ma se hand instap na die emporium van skryfbehoeftes, tydskrifte teen die muur, kaartjies in die middelgang en boeke nogmaals boeke teen die ander muur en rakke.

Die voormalige CNA-gebou in Maitlandstraat, Bloemfontein. Foto: Delta Fund

Eenkant, die trap na bo waar die speelgoed was. Maar dié het ek selde geklim want ek het stelling gaan inneem voor die rakke om boek na boek deur te blaai, verlore terwyl ek kruisbeen sit en vir elke oomblik elke boek in die wêreld besit omdat ek in die CNA sit. Miskien is dit waar die gedagte begin het dat ek dalk ook woorde soos krale op ‘n snoer kan ryg en sinne van woorde kan maak en daardeur sin van die lewe kan maak

Redelik onlangs, meer as 50 jaar later, kon ek nog af en toe instap by CNA’s en daar staan my eie boeke op die rakke in hul helder verligte winkels, nou ook vol DVD’s, CD’s en speletjies asook selfone en lekkers.

CNA het oorloë, droogtes en depressies oorleef, maar trek die laaste jare noustrop.

En my hart klop in my keel op Wêreldboekedag toe ek dink aan gunsteling-boekwinkels en besef ek weet nie eens meer van 'n CNA naby my nie. In 'n stadium was dit soos 'n hoekkafee orals. Daar was darem nog altyd een in Seepunt se hoofstraat, maar lankal nie meer nie. Ek vermoed daar is nog een in Cavendish (in die Kaapse voorstad Claremont) en op Kaapstad Internasionaal.

Ek gaan sit sommer weer kruisbeen in my kop voor die rakke en blaai soos van ouds heel selfbewus maar met ’n warm hart my eie lieflingboek verwonderd deur.

Dankie aan die CNA se boekaankopers vir hul hart vir Afrikaanse boeke al die jare.

Boekwurms en skrywers oral is julle ewig dankbaar. Veral ons wat nie altyd aanlyn boer nie en ’n winkel soek om kruisbeen voor rakke te sit.

Nou nog. Want dit is deel van boek lees se werklike lekkerte.

OFM Nuus



@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.