On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

National

Hoë wanvoeding in De Doorns

───   08:51 Sun, 13 Oct 2013

Hoë wanvoeding in De Doorns | News Article
De Doorns - De Doorns in die Wes-Kaap het een van die hoogste koerse van wanvoeding in die land, het die departement van maatskaplike ontwikkeling Saterdag gesê.

Die departement het 'n openbaredeelname-program by dié plaasgemeenskap gehou om verskeie kwessies aan te spreek.
 
“Dit het daartoe gelei dat die minister, Bathabile Dlamini, 'n vergadering met die gemeenskap van De Doorns belê het,” het die departement in ‘n verklaring gesê.

Ander probleme wat uitgelig is, sluit dwelmgebruik en 'n hoë voorkoms van fetale alkoholsindroom in.
 
Dlamini het planne bekend gemaak oor dienste wat die departement aan die gemeenskap sal lewer.
 
 “Ons moet seker maak dat alle kinders wat vroeë kinderontwikkelingsdienste benodig, veral kinders jonger as vier jaar oud, dié dienste ontvang,” het Dlamini gesê. Sy het ook gesê dat alle kinders, in die nege skole in die omgewing, volgende jaar skoolklere sal ontvang.
 
“Baie min gesinne in De Doorns kan skoolklere bekostig weens die armoede in die gemeenskap.”

Die departement sal nog ses maatskaplike werkers tydelik in die gebied ontplooi, totdat 'n langtermynoplossing gevind kan word.

De Doorns is 'n plaasgebied met seisoenale indiensneming. Boere in die gebied verskaf werk aan sowat 30 000 mense op 'n permanente basis, en 'n verdere ongeveer 40 000 mense binne seisoen tussen September en April.
 
“Dit is veral buite seisoen dat ander maatskaplike uitdagings, soos wanvoeding en alkohol- en dwelmmisbruik voorkom.”

Die departement sal gereeld opnames in die gebied doen om te bepaal hoeveel kinders vroeë kinderontwikkelingsdienste benodig, sodat hul behoeftes aangespreek kan word.
 
Sapa 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.