South Africa
Polisiediens veroordeel Stilfontein-leuens─── 11:11 Sun, 19 Jan 2025
Die Suid-Afrikaanse polisiediens wil sekere bewerings rakende Stilfontein uitklaar en veroordeel die voortslepende verspreiding van verkeerde inligting en leuens, waarsku nasionale polisiewoordvoerder, brig. Athlenda Mathe.
Die eerste saak is dié van die persoonlike inligting van verdagtes wat in die Stilfontein-reddingsoperasie in hegtenis geneem is. Die polisie het sedert die aanvang van die operasie om onwettige mynwerkers te red, ’n lys van hul name met twee gemeenskapsleiers gedeel.
Dit is eerstens gedoen om deursigtigheid met gemeenskappe te verseker, maar ook om te verseker dat gemeenskapslede die polisie bystaan om die naasbestaandes van diegene wat by die onwettige mynbedrywighede betrokke was op te spoor.
“Die polisie het sedertdien met ontsteltenis verneem dat hierdie lyste wat name, nasionaliteite en geboortedatums insluit, wyd op verskeie sosialemediaplatforms gedeel is.” Die polisie ondersoek dus die openbaarmaking van dié persoonlike inligting
Police spokesperson Brigadier Athlenda Mathe addressed the media outside the Stilfontein Magistrate Court.
— Kaya News (@KayaNews) January 17, 2025
'We can not dispute that there may be others, but for now, where we are standing, from the two volunteers, from the camera that was sent down, from mine rescue services...… pic.twitter.com/vTIJtlQL5j
Die tweede saak is die verspreiding va waninligting oor die ontploffing van skag 10 wat na bewering deur die polisie uitgevoer is. Die polisie het ná die bewerings sy plofstofspan opdrag gegee om skag 10 te inspekteer vir enige teken van ontploffing.
“Daar is geen bewyse daarvan gevind nie. Die polisie herinner diegene verantwoordelik vir hierdie aantygings, dat dit ’n oortreding is om vals inligting oor enige ontploffing of beweerde ontploffing te versprei, ingevolge die Plofstofwet (26 van 1956).
“Diegene wat dit wel doen, maak hulself skuldig aan ’n oortreding.” Die polisie win regsadvies in hieroor en oor die pad vorentoe.
Derdens is die bewering dat die polisie een van die twee vrywilligers in hierdie operasie in hegtenis geneem het, sonder waarheid. Die vrywilliger is volgens die departement van korrektiewe dienste (DKD) op parool en het na bewering sy paroolvoorwaardes oortree. Die polisie het hierdie saak na die DKD vir verdere inligting en duidelikheid verwys. Die vrywilliger is nié in polisie-aanhouding nie.
Vala Umgodi-ontplooiings gaan voort om onwettige mynbou-aktiwiteite in Stilfontein te voorkom en te bekamp, het Mathe Saterdag (18/1) gesê.
OFM Nuus cg