South Africa
Groot hartseer oor dood van geliefde progerielyer─── MARIETJIE GERICKE 06:00 Fri, 20 Dec 2024

’n Troosdiens vir Beandri Booysen, ’n lyer aan die verouderingsiekte progerie en TikTok-persoonlikheid, word nog beplan.
Intussen bring sosialemediagebruikers hulde aan die moedige jong vrou van Pretoria en deel hul hartseer nadat een van die land se mees geliefde en inspirerende jong vroue Woensdag (18/12) in die ouderdom van 19 gesterf het.
Progerie is ’n seldsame, ongeneeslike siekte wat veroorsaak word deur ’n genetiese afwyking. Dit word gekenmerk deur voortydige veroudering en vervroegde seniliteit. Die siekte, ook bekend as Hutchinson-Gilford-sindroom, of “oumenssiekte” in die volksmond, kan ’n lyer met ses en meer jaar laat verouder vir elke ware lewensjaar.
Beandri Booysen saam met die sanger Willem Botha. Foto: Facebook
Volgens Bea Booysen, Beandri se ma, was haar dogter die laaste oorlewende persoon in die land met progerie. Sy het die nuus dat haar dogter Woensdag gesterf het op Facebook gedeel, waar mense landwyd met groot hartseer kennis neem, hul medelye betuig en bemoedigende boodskappe stuur.
“Dit is met diep hartseer dat ons die afsterwe van Beandri Booysen aankondig, een van Suid-Afrika se mees geliefde en inspirerende jong vroue. Beandri was nie net bekend vir haar sprankelende persoonlikheid en aansteeklike lag nie, maar ook as die laaste oorlewende persoon in Suid-Afrika wat met Progeria geleef het – ’n seldsame genetiese toestand wat kinders vroeg laat oud word,” lui die inskrywing.
Beandri het op 20 November 19 geword, minder as 'n maand voor haar dood. Foto: Facebook
“Ten spyte van die uitdagings … het Beandri hoop en lewensvreugde uitgestraal. Sy was ’n stem en ’n simbool van bewusmaking vir progerie en ander spesiale behoeftes, en het met haar unieke gees duisende mense geïnspireer,” skryf Bea.
Die Booysen-familie het vriendelik privaatheid in dié moeilike tyd versoek, terwyl hulle die verlies van Beandri verwerk en ’n gedenkdiens beplan. Nadere besonderhede sal oor die diens sal later bekend gemaak word, sê hulle.
Kim Binlaken het op Facebook geskryf: “My hart is gebroke, maar ek weet jy is by Jesus.”
En Chemonei Korff: “Ons gaan haar so bitter baie mis. Sterkte, Mamma en Pappa.”
Beandri in 2015 saam met die sanger Bobbie van Jaarsveld. Foto: Facebook
Meer oor Beandri
- Beandri is op 20 November 2005 gebore.
- Die genetiese toestand waaraan sy gely het, veroorsaak versnelde veroudering by kinders.
- Sy het ook aan osteoporose gely.
- Sy het ernstige hartprobleme gehad weens haar hartklep wat geblokkeer was, wat veroorsaak het dat daar slegs beperkte bloedvloei van die hart was. Om sake te vererger, was daar boonop verkalking van die hart.
- Sy moes in Oktober dringend geopereer word en daar is met ’n geldinsameling begin om vir haar opehartoperasie te betaal.
- Beandri, wat in die voorstad Doornpoort in die noorde van Pretoria gewoon het, was geliefd onder haar amper 270 000 volgelinge op Tik Tok.