On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

Vermeende dwelmmuil van Namibië vasgetrek met wavrag geslukte dwelms

───   10:30 Mon, 23 Sep 2024

Vermeende dwelmmuil van Namibië vasgetrek met wavrag geslukte dwelms | News Article
Sy het tot dusver reeds meer as 60 koeëlvormige pakkies vol dwelms uitgewerk. Foto: X

“ ’n X-straal het bevestig dat sy vreemde voorwerpe in haar maag versteek het.”

Gautengse polisie het  ’n vermeende, vroulike dwelmmuil van Namibië op die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park in hegtenis geneem.

Die polisie en intelligensie-eenhede het Sondag (23/9) op ’n wenk gereageer oor ’n verdagte (30) wat na verwagting omstreeks 07:25 uit São Paulo, Brasilië, sou land.

Die span het die verdagte onmiddellik onderskep terwyl sy nog by immigrasie besig was, sê Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder. “Sy is dadelik in hegtenis geneem en na ’n hospitaal geneem waar ’n X-straal bevestig het dat sy vreemde voorwerpe in haar maag versteek het.


“Die proses het begin om die vermeende dwelms uit haar liggaam uit te kry. Sy het tot dusver reeds meer as 60 koeëlvormige pakkies uitgewerk, vermoedelik met kokaïen daarin. Sy is in aanhouding onder polisiebewaking.”

Die waarde van die dwelms kan nog nie bepaal word nie aangesien die proses om alles uit die verdagte se liggaam te kry, geruime tyd kan duur.

Dit is die tiende dwelmmuil wat die afgelope twee maande op dié lughawe in hegtenis geneem is.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, loof die waaksaamheid van die multidissiplinêre span wat onvermoeid werk om misdaad op die lughawe te bekamp.

“Ons manne en vroue in blou is deurlopend besig om geharde misdadigers aan te keer. Suid-Afrika is nie ’n speelplek vir misdadigers en transnasionale georganiseerde misdaad nie. Ons laat geen beweegruimte vir misdadigers nie en laat niks aan die toeval oor nie.”

Die polisie het die afgelope twee maande op die O.R. Tambo-lughawe beslag gelê op meer as R13 miljoen se dwelms, waarvan R12 miljoen kokaïen was.

OFM Nuus mc/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.