On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

Eskom-voortvlugtige aan Suid-Afrika uitgelewer

───   14:46 Fri, 20 Sep 2024

Eskom-voortvlugtige aan Suid-Afrika uitgelewer  | News Article
Michael Lomas (77) buite die landdroshof in Kempton Park. Skermgreep: X

“In ’n poging om sy uitlewering aan Suid-Afrika te ontduik, het hy ’n aansoek by die Europese menseregtehof ingedien.”

’n Gewese Eskom-werknemer wat gesoek word vir korrupsie en bedrog van meer as R1,4 miljoen, het Vrydag (20/9) in Suid-Afrika aangekom.

Die vlug uit die Verenigde Koninkryk met Michael Harry Lomas (77) aan boord het  op die OR Tambo-lughawe in Kempton Park geland. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het bevestig dit was danksy die Valke-ondersoekers se werk om die vermeende bedrieër aan Suid-Afrika uit te lewer.

Hy is Vrydagoggend deur die VK aan Suid-Afrika uitgelewer en aan die Valke oorhandig. Die beweerde bedrog en korrupsie by die kragvoorsiener is na bewering tussen 2008 en 2018 by die Kusile-kragsentrale gepleeg.

Lomas het na bewering talle kontrakte gemanipuleer. Hy is voorheen in hegtenis geneem en is borgtog toegestaan, voordat hy landuit na die VK gevlug het. 

Sy hofverskyning was danksy ’n suksesvolle uitlewering deur Brittanje se teenkorrupsie-ondersoekdirektoraar (Idac), waarvolgens hy op 15 April 2021 in hegtenis geneem is en op 20 Mei 2021 op borg vrygelaat is. Die staat se aansoek om sy uitlewering is teengestaan. 

Op 30 Januarie 2023 is ’n uitleweringsbevel egter deur die Britse minister van staatsveiligheid bekragtig. Daarna het hy appèl aangeteken teen die uitleweringsbevel. Hy was onsuksesvol. 

Daarna sou hy nog vier keer appèl aanteken; elkeen is geweier. Om sy uitlewering aan Suid-Afrika te ontduik, het hy ’n aansoek by die Europese menseregtehof ingedien, maar ook sonder welsae. Sy uitlewering is verlede maand goedgekeur.

In 2019 is vyf lasbriewe vir inhegtenisneming verkry, waarvan vier uitgevoer is. Die aangekeerdes was twee kontrakteurs en twee senior bestuurders van Eskom. Die vyfde verdagte was toe reeds landuit, sê Mathe. 

“Sedertdien werk die span saam met die Britse owerheid om hierdie spesifieke verdagte na die land terug te bring om rekenskap te gee van al hierdie aantygings teen hom.”

Die landdroshof in Kempton Park het die korrupsiesaak teen Lomas tot 27 September uitgestel en oorgplaas na die Palm Ridge-handelshof vir ’n formele borgtogaansoek. Lomas staan tereg op 65 aanklagte van korrupsie wat verband hou met die R1,4 miljard wat bestem was vir die opgradering van Eskom se Kusile-kragsentrale in Mpumalanga tussen 2014 en 2017.  

Die Valke het in samewerking met aanklaers van Idac ’n deeglike ondersoek na die beweerde korrupsie by Kusile gedoen, waarin elf ander beskuldigdes op soortgelyke aanklagte teregstaan. 

Ná die inhegtenisneming en hofverskyning van die elf beskuldigdes, wat Eskom se voormalige uitvoerende beamptes en Tibular Construction Projects-direkteure insluit, het die batebeslagleggingseenheid ’n bevel van ongeveer R1,4 miljard teen hul bates toegestaan.

Die saak teen die elf beskuldigdes diens tans voor die hooggeregshof in Johannesburg. Lomas sal in die laer hof aangekla en verwerk word, voor sy saak gekombineer word met die hooggeregshofsaak waar die aangeleentheid deur Idac vervolg word.

OFM Nuus cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.