On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

‘Kwartaallikse misdaadstatistiek beeld oorlogsone uit’

───   06:40 Sat, 31 Aug 2024

‘Kwartaallikse misdaadstatistiek beeld oorlogsone uit’ | News Article
Stygende misdaadstatistiek kan nie bloot op die polisie geblameer word nie, sê Popcru. Foto: SAPD

“Daar is ’n oorlog wat in ons strate woed en ons wetsgehoorsame burgers is die slagoffers.”

Kommerwekkende misdaadtendense in Suid-Afrika sluit in moord, verkragting, kaping, ontvoering vir losprysbetalings en afpersing.

Senzo Mchunu, die minister van polisie, het Vrydag (30/8) twee kwartale se misdaadstatistiek in Kaapstad onthul. Die jongste statistiek het getoon dat byna 6 200 mense in drie maande – 1 April tot 30 Junie 2024 – vermoor is, met vier van die nege provinsies in die land wat toenames in moordsake aangeteken het. Dit beteken meer as 500 mense word per week in Suid-Afrika vermoor.

‘Getal moordsake in Noordwes styg meeste ná Wes-Kaap’

“Misdaad neem oor die algemeen toe. Misdaad wat ons die meeste behoort te bekommer is moord, verkragting, kaping, ontvoering vir losprysbetalings en afpersing,” het hy in Kaapstad gesê. “Vier van die nege provinsies het toenames in moordsake aangeteken, met die hoogste toename in die Wes-Kaap, gevolg deur Noordwes, daarna die Oos-Kaap en Limpopo.”


Mchunu het gesê die top 30 stasies vir moord was in slegs vier provinsies, naamlik Wes-Kaap (11), KwaZulu-Natal (8), Oos-Kaap (6) en Gauteng (5).

“As ons kyk na die verhouding van moorde wat per capita per provinsie gepleeg word, staan die Oos-Kaap op 17,6%, gevolg deur die Wes-Kaap op 15,3%, dan KwaZulu-Natal op 12,3% en laastens Gauteng op 8,3%. Dit is opmerklik dat die Limpopo-provinsie 3,3% per capita aangeteken het,” het Mchunu gesê.

Verkragting en kaping het ook toegeneem. Aangemelde verkragtingsake het van 9 252 tot 9 309 gestyg, wat ’n toename van 0,6% verteenwoordig.

‘Misdaadstatistiek weerspieël kwessies wat SAPD in gesig staar’

Popcru glo die jongste misdaadstatistiek weerspieël die stand van die land se polisiëring direk. Popcru-woordvoerder Richard Mamabolo het gesê die ongelyke toewysing van hulpbronne, swak werksomstandighede en die tekort aan ammunisie en opleiding is van die redes vir die polisie se onvermoë om misdaad hok te slaan.

“Dit is altyd noodsaaklik dat ons, wanneer ons oor die stygende misdaadstatistiek besin, dit nie net op die polisie blameer nie, maar ’n breë benadering volg wat die breër sosio-ekonomiese toestande van die bevolking in ag neem, insluitend die implikasies daarvan wat lei tot die toestande wat ons wetstoepassers mee te doen kry,” het Mamabolo gesê.

“Daarom het Popcru einde verlede jaar ’n polisiëringsindaba gehou wat gegrond was op die intensivering en uitbreiding van werk wat met verskeie sektore van die samelewing, besigheid en gemeenskappe aangepak moet word om misdaad te voorkom en te bekamp. Dit vereis die mobilisering van ’n breër verantwoordelikheid en ’n meer proaktiewe benadering tot misdaadvoorkoming.”

Mamabolo het ook die regering versoek om die gefragmenteerde strukture in die strafreggroepering aan te spreek.

“Daar is ’n behoefte om sinergie tussen die Departement van Korrektiewe Dienste, die SAPD en die regbank te bewerkstellig, met die SAPD wat verantwoordelik is vir die inhegtenisnemings wat gemaak is, die regbank wat verantwoordelik is vir die aantal skuldigbevindings en vervolgings, terwyl die departement van korrektiewe dienste verantwoordelik is vir die aantal gevangenisse.

“Dit sal help met die bepaling van gekonsolideerde toekomstige begrotings wat ’n gekorreleerde benadering deur strafregspleging (CJC) moet bewerkstellig in plaas van die huidige voortgesette situasie waarin elke departement blindelings en in isolasie van mekaar werk.”

Rise Mzansi sê die statistiek wys op die deurleefde werklikheid van gemeenskappe regoor die land, hetsy in landelike of stedelike gebiede. Suid-Afrikaners, veral vroue, is nie veilig in hul huise óf openbare ruimtes nie.

“Die nuwe polisieminister maak die regte geluide. Sy prioriteite is ’n verbetering ná die rampspoedige ampstermyn van die destydse minister van polisie, Bheki Cele.

‘Om wegholmisdaad onder beheer te kry moet die moordsyfer halveer word’

“Gevolglik sal die volgende reeks misdaadstatistiek onthul of die minister se woorde en politieke rigting die ondersteuning van die SAPD se nasionale leiers het en in ’n veiliger Suid-Afrika omgeskakel sal word.

“Ons woon in wat die beste beskryf kan word as ’n oorlogsone. Altesaam 68 mense word elke dag vermoor en 75 pogings tot moord word daagliks aangemeld. Veral vroue word aangeval, met ’n gemiddeld van 102 verkragtings daagliks en gemiddeld 62 huishoudings aan rooftogte blootgestel word,” het Makashule Gana, Rise Mzansi se hoofsweep in die Nasionale Vergadering, gesê.

“Om wegholmisdaad in die land onder beheer te kry moet die polisieministerie en nasionale bevel hul pogings daarop toespits om die moordsyfer oor die volgende vyf jaar te halveer, met alle belanghebbendes saam te werk en die maatskaplike oorsake van misdaad te hanteer – veral in verkragting- en moordsake – saamwerk met gemeenskappe, die akademie en sakeondernemings en vaardighede opgradeer en meer speurders in diens te neem,” het Gana gesê.

AfriForum stem nie saam dat minister Mchunu in die regte rigting beweeg nie nadat die polisie tussen April en Junie 2024 meer as 153 637 kontakmisdaadsake aangeteken het.

In plaas daarvan het hulle ’n beroep gedoen op burgerlike samelewingstrukture om misdaad te help bekamp.

“Die feit dat kontakmisdaad met 3 831 gevalle toegeneem het vanaf 149 806 dieselfde tyd verlede jaar, beklemtoon dit die belangrikheid daarvan dat SAPD kragte moet saamsnoer met burgerlike veiligheidstrukture, soos AfriForum se 177 buurtwagte.”

Intussen het verskeie partye en organisasies ook hul menings gegee.

Die VF Plus het gesê die toename in misdaad teen vroue en kinders, asook plaasmoorde, bly ’n ernstige probleem. “Vrouemoorde het van 895 tot 966 (71 meer) gestyg, poging tot vrouemoord het van 1 417 tot 1 644 (227 meer) gestyg en ernstige aanranding van 12 872 tot 13 757 (885 meer),” het LP Heloïse Denner gesê.

Sy het gesê met betrekking tot misdaad teen kinders, het moord gestyg van 293 tot 314 (21 meer), poging tot moord van 354 tot 424 (70 meer) en ernstige aanranding van 1 432 tot 1 596 (164 meer). Denner het gesê die VF Plus vind hierdie syfers uiters kommerwekkend gegewe die talle bewusmakingsveldtogte wat van stapel gestuur is.

Die misdaadstatistieke het ook 'n bloedige prentjie uitgebeeld, veral in die Oos-Kaap, aangesien kommerwekkende neigings in geweldsmisdaad onverpoosd voortduur.

Die DA se skadu-LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Oos-Kaap, Yusuf Cassim, sê die provinsie is in ’n krisis. Hy het Vrydag gesê die party versoek dat lt-genl. Nomthetheleli Mene, die provinsiale polisiekommissaris, nasionaal verantwoording moet doen vir die kommerwekkende kwartaallikse misdaadstatistiek.

“Die jongste statistiek wys dat dringende ingryping nou nodig is, meer as ooit, aangesien ons provinsie ’n oorlogsone is. Daar is ’n oorlog wat in ons strate woed en ons wetsgehoorsame burgers is die slagoffers.

“In net ses maande het die Oos-Kaap die tragiese verlies van 2 328 lewens weens geweldsmisdaad beleef. Hierdie oplewing in geweld het talle gesinne verpletter gelaat en gemeenskappe leef in vrees. Die krisis strek verder as moord, met seksuele misdrywe in die provinsie op ontstellende vlakke,” het Cassim bygevoeg.

Die aankondiging Vrydag weerspieël misdaad wat plaasgevind het gedurende die laaste kwartaal van die vorige finansiële jaar (K4: 1 Januarie tot 31 Maart 2024), sowel as die eerste kwartaal van hierdie finansiële jaar (K1: 1 April tot 30 Junie 2024). Die vrystelling van die K4-statistiek is vertraag weens die 29 Mei verkiesings, het die SAPD beweer.

OFM Nuus/Bronne: X, Jacaranda FM, Algoa FM, The Citizen








@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.