On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

South Africa

Lydenburg: Meisie (10) doen harsingskudding op ná afknouery

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:01 Fri, 26 Jul 2024

Lydenburg: Meisie (10) doen harsingskudding op ná afknouery | News Article
Mianay Sinden. Foto verskaf

“Volgens inligting het Mianay Sinden, ’n gr. 5-leerder, vinnig na haar volgende klas gestap toe sy glo deur ’n medeleerder wat saam met ander in die gang gestaan het, gepootjie is.”

’n Leerling van die Laerskool Lydenburg in Mpumalanga het ligte harsingskudding opgedoen en moes ’n operasie ondergaan nadat sy by die skool gepootjie is. Die voorval het tydens klaswisseling gebeur.

“Volgens inligting het Mianay Sinden, ’n gr. 5-leerder, vinnig na haar volgende klas gestap toe sy glo deur ’n medeleerder wat saam met ander in die gang gestaan het, gepootjie is,” sê haar pa, Gerhard Sinden.

Sy plasing op sosiale media oor die voorval Woensdag, (17/7) is reeds meer as 14 000 keer gedeel.


Nadat sy na die siekeboeg geneem is, het die skool haar ma, Alicia Deysel, gebel en gesê Mianay kla van hoofpyn, naarheid en pyn in haar hand. Deysel het haar by die skool gaan haal en dokter toe geneem, sê Sinden.

“X-strale het getoon dat haar pinkie gebreek is en Mianay het Donderdag (18/7) ’n chirurgiese prosedure by die Mediclinic Nelspruit ondergaan.”

Mianay Sinden se vinger is gebreek. Foto verskaf

“Die dokter het ook voorgestel dat sy ’n plaat kry om die been te versterk omdat sy nog jonk is,” sê Deysel, Sy is Vrydag (19/7) ná die operasie ontslaan.

Sinden sê die skool het ná die voorval met Deysel gepraat, maar hy was uitstedig en kon nie die vergadering bywoon nie.

“In reaksie op die voorval het die skooladministrasie en beheerliggaam proaktiewe stappe gedoen om die veiligheid en welstand van alle leerders te verseker,” sê Witte Aucamp, lid van die beheerliggaam.

Baie gelukkig by die skool

“Die saak is ondersoek, ons het met die ouers gekommunikeer, maar ons kan ongelukkig nie meer besonderhede oor die voorval verskaf nie omdat kinders betrokke is. Ons kan verseker dat die regte kanale gevolg is.”

Sinden verduidelik dat sy Facebook-plasing nie bedoel was om die skool se reputasie te skend nie, maar ter wille van bewusmaking. “Mianay is baie gelukkig by die skool en word nie daagliks geboelie nie.”


“As ouer wou ek ouers bewus maak dat hul kinders moet leer dat ’n klein voorval groot skade kan veroorsaak. As jy agterkom jou kind boelie iemand, praat met jou kinders daaroor.”

Deysel sê in ‘n verklaring Mianay weet nie wie die skuldige party is nie, maar weet wel dit was ’n seun. “Die voorval was ’n ongeluk waarby ’n stout kind betrokke was wat nie aan die gevolge gedink het nie.”

Mianay is reeds terug is by die skool en sy neem nie die skool kwalik omdat hulle die regte prosedures gevolg het. “Ons het wel die skool gevra om kinders meer bewus te maak van die gevolge van ’n gepootjie en ’n stamp en stotery wat ernstig en skadelik kan wees.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.