On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan Anny
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

South Africa

Ouers stukkend ná seun (4) se kankernuus

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:33 Tue, 23 Jul 2024

Ouers stukkend ná seun (4) se kankernuus  | News Article
Gebed hou ons op die oomblik staande, vertel Liam Jacobs se ma, Suné. Foto verskaf.

“Ná talle toetse het hulle die nuus ontvang wat geen ouer wil hoor nie. Maar hoe dra jy sulke nuus oor aan ’n kind wat dalk nie verstaan nie?”

Nadat kanker onlangs by hul seun gediagnoseer is, het ’n ouerpaar van Sannieshof in Noordwes gevoel asof hul wêreld uitmekaarval.

Die onbekende toekoms en die oorweldigende onsekerheid het aan WD en Suné Jacobs gevreet. Tog moet hulle nou sterk staan ter wille van hul seun. 

“Ons het ’n ongelooflike goeie ondersteuningsnetwerk, en gebed hou ons op die oomblik staande,” vertel Suné.

Kanker is die afgelope Donderdag (18/7) by die blondekop Liam (4) gediagnoseer. ’n CT-skandering by Medstream Mediclinic het bevestig dat hy brein- en spinale kanker het.

Kanker is die afgelope Donderdag (18/7) by dié blondekop Liam Jacobs (4) gediagnoseer. Foto verskaf.

WD vertel Liam was die afgelope maand pal in die hospitaal. “Die dokters het aanvanklik gastritis vermoed omdat hy baie opgebring het en toe ’n aansienlike hoeveelheid gewig verloor het. Hy het ook begin kla dat sy kop wou breek,” sê WD.

Ná talle toetse het hulle die nuus ontvang wat geen ouer wil hoor nie. Maar hoe dra jy sulke nuus oor aan ’n kind wat dalk nie verstaan nie?

Liam gaan Vrydag (26/7) vir sy eerste operasie. Foto verskaf.

“Liam het Sondag vir my gevra: ‘Mamma, wat is fout met my?’ Want hy braak nie meer nie, en sy hoofpyne is minimaal,” vertel Suné.

“Ek het vir hom verduidelik dat daar balle in sy kop is wat nie daar moet wees nie; so hy moet veg daarteen. Hy moet hulle sommer in duisend stukke slaan,” voeg sy hartseer by.

Liam gaan Vrydag (26/7) vir sy eerste operasie waartydens dokters soveel gewasse moontlik sal verwyder. “Daarna sal ons die pad vorentoe weet. Dokters bespreek reeds bestraling en chemoterapie.”

In hierdie stadium vat WD en Suné dit dag vir dag. “Tot dusver is elke dag ’n goeie dag, hoewel dit ’n uitdaging is. Dit gaan goed met Liam en hy is baie sterk.”

Dit breek WD en Suné se hart om te sien waardeur hul seuntjie moet gaan. Foto verskaf.

Hul grootste uitdaging is om heeltyd in die hospitaal te wees. “Liam sê hy mis net die huis-happie.”

Dit breek WD en Suné se hart om te sien waardeur hul seuntjie moet gaan en hulle hoop en bid vir ’n gesonde kind met ’n vol lewe. “Hy wil so graag weer gaan boer saam met sy oupa en met sy sussie speel.”

Die situasie het ’n uitwerking op WD en Suné se werk, en enigiemand wat die gesin wil ondersteun, kan dié skakel na Burre Burger se blad volg.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg/mvh 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.