On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan Anny
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

South Africa

Twee voortvlugtiges vas ná Freitag se moord

───   07:30 Wed, 17 Jul 2024

Twee voortvlugtiges vas ná Freitag se moord | News Article
Rudie Lubbe en Shantelle Oosthuizen is aangekeer en word binnekort in die hof verwag. Foto: Facebook

“Freitag het versoek dat hy gif gegee word eerder as om tronkstraf in die gesig te staar.”

’n Voortvlugtige prokureur en sy jare lange minnaar en medepligtige is in hegtenis geneem vir die beweerde moord op die voormalige wêreldkampioen Jacques Freitag in Nelspruit, berig The Citizen.

In 'n dramatiese verwikkeling in die skokmoordsaak van die voormalige hoogspringster, het die polisie Dinsdag 16 Julie die oud-prokureur Rudolph “Rudie” Lubbe en Shantelle Oosthuizen omstreeks 10:00 op Dinsdag (16/7) deur die Mpumalanga-polisie in Sabie in hegtenis geneem, waar hulle in ’n gastehuis geskuil het.

Hulle sal binnekort in die Pretoria-landdroshof verskyn en vir borgtog aansoek doen.

Lubbe en Oosthuizen het op die vlug geslaan nadat die polisie in Hercules, Pretoria, lasbriewe vir die inhegtenisneming van die egpaar bekom het, op aanklagte van moord, poging tot moord en sameswering om moord te pleeg.

Dit was nadat Freitag (42) in Junie vermis geraak het en sy liggaam op 1 Julie naby die Zandfontein-begraafplaas gevind is. Verskeie mediahuise het berig dat ’n moontlike liefdesdriehoek die motief vir Freitag se moord kon wees.

Oosthuizen en Lubbe, wat albei van Pretoria is, het van die radar verdwyn nadat hulle in verband met die wrede moord ondervra is.

Die spesialis-privaatondersoeker Mike Bolhuis, wie se Gespesialiseerde Sekuriteitsdienste (SSS) se taakspan nou saam met die polisie werk in dié saak, het die inhegtenisnemings bevestig.

Wie is Rudie Lubbe?

Lubbe is in 2006 van die rol van prokureurs geskrap ná klagte van die Prokureursorde van die Noordelike provinsies dat hy onprofessioneel was en geld uit ’n trustrekening gesteel het. 

Hy het ook in Augustus 2004 opslae gemaak nadat hy in hegtenis geneem is omdat hy na bewering gedreig het om sy destydse vrou, Magdaline, te vermoor.

Jacques Freitag-moorddrama

The Citizen berig Freitag is laas lewend gesien toe hy op 18 Junie te voet ’n gastehuis in Booysens, Pretoria-Wes, verlaat het.

Hy is die vorige dag daar afgelaai deur Lubbe wat hom om 01:00 die oggend by die Bronkhorstspruit-huis van sy ma, Hendrina Pieters, gaan haal het om hom na bewering vir ’n werk te betaal.

Freitag se ontbindende liggaam is op 1 Julie gevind met drie skietwonde en 'n gebreekte arm in ’n veld naby die Zandfontein-begraafplaas, wat sowat 4 km van die gastehuis geleë is. Die 2,04 m lange voormalige topatleet is ook verskeie kere met ’n mes gesteek.

Shantelle Oosthuizen saam met drie van die mans in die moorddrama. Foto’s: Facebook

Beweerde liefdesdriehoek

Die “werk” waarvoor Lubbe glo die voormalige ster-atleet geld geskuld het, was blykbaar ’n mislukte huurmoord op Oosthuizen se verloofde, die 31-jarige Louis Harmse.

Oosthuizen en Lubbe het 16 jaar uitgegaan voordat sy Harmse in Maart 2023 in ’n kroeg op Bela-Bela ontmoet het.

Ten spyte van haar verlowing aan Harmse ná 'n warrelwindromanse, het Oosthuizen in noue kontak met Lubbe gebly.

Bose aanval voor hoogspringer se moord

Harmse het aan Rapport gesê hy is na bewering op 13 Junie deur Freitag met ’n baksteen aangeval. Die aanval op Harmse het plaasgevind vyf dae voordat die 42-jarige hoogspringster laas lewend gesien is toe hy die gastehuis verlaat het. Freitag was glo ’n goeie vriend van Lubbe en Oosthuizen, met Harmse ook een van sy kennisse.

Kaptein Martin Smith het bevestig dat Harmse klagte van poging tot moord en sameswering om moord te pleeg teen Oosthuizen en Lubbe aanhangig gemaak het.

Louis Harmse praat uit oor wrede aanval

Harmse het gesê Oosthuizen het hom die oggend van 13 Junie meegedeel dat Lubbe vir hom 'n werk op ’n plaas gereël het en dat sy by hom sou aansluit. Sy het vir hom gesê dat hulle twee op 13 Junie in die woonstel van Lubbe se huurhuis in Montana Park sou oorbly voordat die voormalige prokureur hulle die volgende oggend plaas toe sou neem.

‘Harmse na bewering wreed deur Freitag met ’n baksteen aangeval’

Harmse het sy tasse gepak en met sy aankoms by die woonstel het Oosthuizen glo vir hom gesê sy en Lubbe gaan dwelms kry terwyl hy afpak.

Louis Harmse Shantellè Oosthuizen Jacques Freitag Rudie Lubbe

Louis Harmse en Shantelle Oosthuizen. Foto: Facebook

Hy glo nou dat die beloofde werk net deel was van ’n uitgebreide leuen deur Oosthuizen om hom daar te kry.

Terwyl hulle weg was, is Harmse na bewering wreed deur Freitag met ’n baksteen aangeval.

Hy het 240 steke gekry vir die uitgebreide kopbeserings wat hy opgedoen het. Die agterkant van sy skedel is so stukkend geslaan dat hy ’n veselglasplaat moet laat aanbring. Sy brein het ook ’n millimeter vorentoe beweeg.

Smith het bevestig dat Harmse aanklagte van poging tot moord en sameswering om moord te pleeg teen Oosthuizen en Lubbe aanhangig gemaak het.

Freitag op die vlug?

In ’n verrassende wending was Freitag glo ook op die vlug voordat hy op 18 Junie geheimsinnig verdwyn het.

’n Anonieme bron het met Rapport gedeel dat Freitag aanvanklik onder die indruk was dat hy Harmse vermoor het.

Die ontstelde oud-hoogspringer het glo op sy drumpel aangekom, oortuig daarvan dat die polisie na hom soek en dat hy in die tronk gegooi sou word. Hy het verder beweer dat ’n “verskrikte” Freitag versoek het dat hy gif gegee word eerder as om tronkstraf in die gesig te staar.

‘Lubbe het Freitag glo opdrag gegee om ontslae te raak van sy selfoon’

Volgens die bron het Freitag aan hom gesê dat Lubbe, met wie hy glo gereeld saam dwelms gebruik het, hom gehuur het om Harmse te vermoor. Ná die aanval op Harmse het Freitag glo in ’n minibustaxi na sy ma se huis in Bronkhorstspruit gevlug.

Lubbe het glo aan Freitag opdrag gegee om ontslae te raak van sy selfoon, wat die oudatleet uit die taxi gegooi het op pad na Bronkhorstspruit.

Die ondersoek duur voort.

OFM Nuus cg





@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.