On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan Anny
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

South Africa

Afdankings by Media24 sal voortgaan ná kommissie se besluit

───   06:30 Wed, 17 Jul 2024

Afdankings by Media24 sal voortgaan ná kommissie se besluit | News Article
Foto: City Press

“Iewers langs die pad het Media24 daardie sin verloor en het hy net maatskappy geword.”

“As jou sin net jou som is, wat is jou sin van bestaan dan nou eintlik?” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, aan Media24 (Naspers) gevra rakende die beplande afdankings en sluiting van koerante.

Ná ’n onthulling verlede maand deur Moneyweb het die maatskappy erken hy beplan om vyf koerante te sluit, waaronder Beeld en Rapport, die enigste Afrikaanse Sondagkoerant, en City Press. Die e-publikasies van die koerante, asook dié van Die Burger Oos-Kaap en Volksblad, die enigste dagblad in Sentraal-Suid-Afrika, word ook einde September gestaak. 

“Naspers is ’n trotse maatskappy en sy stigtingsgeskiedenis, meer as 100 jaar gelede, was ingebed in die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur. Daar was dus iets groters wat sy sin vir bestaan bepaal het. Iewers langs die pad het hy daardie sin verloor en het hy net ’n maatskappy geword. Sy sin het geld geword.

‘Selfs hulle joernaliste en personeel raak syfers’

“Alles voor hulle word syfers. Selfs hulle joernaliste en personeel raak syfers,” meen Hermann. “Wat is die som van die joernalis en nie wie is die joernalis nie? Die gevolg is dat personeel en selfs redaksies in ander publikasies moes lees hulle publikasies word toegemaak en hulle gaan dalk hulle werk verloor. Hulle menswees word nie geag nie.”

Volgens Johan Roos, organiseerder van Solidariteit se Kommunikasie-en-bemarkingsnetwerk, is die vakbond bewus van die aanbod wat die mededingende Caxton Groep gemaak het om Media24 se gemeenskapskoerante te koop. Solidariteit het Media24 in ’n brief versoek om eers hierdie aanbod te oorweeg.

Media24 het tydelik planne gestaak om verskeie gedrukte titels te sluit en werknemers te ontslaan om, volgens hom, bedrywighede te stroomlyn en by die veranderende medialandskap aan te pas.

Dit word gedoen hangende regulatoriese goedkeuring vir die beplande verkoop van sy verspreidingsonderneming On the Dot aan Novus. Intussen sou Rapport, City Press en Daily Sun voortgaan as “slegs digitale handelsmerke”.

Hierdie planne word egter nou onderbreek, hangende die Mededingingskommissie se besluit, wat die toekomstige optrede vir Media24 se herstrukturering sal bepaal.

Media24 het nou bevestig dat hy nie afleggings (of koerantsluitings) sal implementeer totdat dié kommissie sy voorgestelde verkoop van On the Dot en verskeie gemeenskapskoerante aan Novus goedkeur nie.

Novus is een van Suider-Afrika se mees prominente druk-, uitgewery- en verpakkingsgroepe, het ’n jare lange verhouding met Media24 en druk al sy koerante.

Die uitkoms sal die maatskappy se arbeidsmag en sy teenwoordigheid in die Suid-Afrikaanse mediamark aansienlik beïnvloed. ’n Samesmeltingsoorsig deur die Mededingingskommissie kan lank duur, veral as ’n derde party dit teenstaan.

Volgens Moneyweb het die hoof van Media24, Ishmet Davidson, die volgende oor die onderbreking gesê: “Dit was nooit ons bedoeling om dit te doen voor goedkeuring van die betrokke owerhede nie, aangesien die verkoop van On the Dot ’n direkte gevolg is van ons voorneme om die geaffekteerde titels te sluit. 

“Dit is egter belangrik om daarop te let dat hierdie onderneming nie die staking van die artikel 189-konsultasieproses, wat verband hou met die geaffekteerde koeranttitels, insluit nie.”

Volgens News24 het die vakbond Solidariteit vir Media24 versoek om die proses om sy koerante te sluit, te staak en gewaarsku dat sulke optrede “verreikende gevolge vir die hele medialandskap in Suid-Afrika” sal hê.


In ander berigte het Caxton en CTP Publishers and Printers Limited na bewering ’n kommersiële aanbod gemaak wat alternatiewe oplossings voorstel vir die bedryfsredes wat Media24 vir moontlike aflegging aangevoer het.

Solidariteit het die belangrikheid beklemtoon om enige alternatiewe vir aflegging deeglik te oorweeg, voordat daar voortgegaan word. ’n Samesmeltingsoorsig deur die Mededingingskommissie kan lank wees, veral as ’n derde party dit teenstaan.

‘Solidariteit oorweeg moontlik regsingrypings’

Capital Newspapers en Caxton het twee weke gelede in wydverspreide persadvertensies aangedui dat daar geen vroeë sluiting van Media24-koeranttitels behoort te wees, totdat die samesmeltingstransaksie wat die verkoop van On the Dot aan Novus behels én die gekoppelde titelsluitings in hul geheel deur die mededingingsowerhede goedgekeur is nie. 

Dit sal ’n uitstel vir die pers beteken en Caxton en Capital Newspapers toelaat om die voorgestelde transaksie teen te staan.

Solidariteit sê ook hy het sy regspan opdrag gegee om moontlike regsingrypings te oorweeg.

OFM Nuus cg/mc/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.