On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan Anny
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

South Africa

Julie-geweld: Gebrek aan skuldigbevindings vir verwoesting betreur

───   06:58 Wed, 10 Jul 2024

Julie-geweld: Gebrek aan skuldigbevindings vir verwoesting betreur | News Article

“Dit bewys net dat hierdie mense weer daarmee kan wegkom omdat hulle voorheen daarmee weggekom het.”

Dinsdag (9/7) was die derde herdenking van die verwoestende onrus wat KwaZulu-Natal en dele van Gauteng geteister het.

Die gewelddadige betogings en plundering wat op 10 Julie 2021 uitgebreek het, het ’n spoor van vernietiging gelaat, wat sowat 300 lewens geëis en ekonomiese skade aangerig wat miljarde rande beloop het.


Die geweld het begin kort nadat oudpresident Jacob Zuma in hegtenis geneem is weens minagting van die hof nadat hy ’n bevel om voor die Staatskapingskommissie te verskyn, verontagsaam het.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het ’n ondersoek na die onluste van stapel gestuur, maar geen bewyse gevind wat die arrestasie van Zuma met onrus verbind nie.

Mdumiseni Khetha Zuma het in November 2023 die eerste persoon geword wat skuldig bevind is aan die aanhitsing van die geweld en is tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die aanmoediging van ander om openbare geweld te pleeg.

Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) sê egter die voorlopers is nie in hegtenis geneem nie.

Senior opleidingskoördineerder oor terrorisme by ISS, Willem Els, sê daar moet meer aanspreeklikheid wees.

“Ons het gesien hoe ’n paar lae-profiel mense gearresteer en vervolg is maar die meesterbreine daaragter word nie in hegtenis geneem nie. Dit is ’n uitdaging wat ons het, want dit bewys net dat hierdie mense weer daarmee kan wegkom omdat hulle voorheen daarmee weggekom het.”

Hy sê die staatsveiligheidsagentskappe se gebrek aan beplanning het daartoe gelei dat die Julie-onrus buite beheer geraak het, met selfs die SANW wat onkant betrap is.

“Omdat daar geen beplanning was nie, was die polisie heeltemal onvoorbereid. Hulle was onderbeman met geen regte toerusting nie en hulle is nie voor die onrus gemobiliseer nie.”

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.