On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

South Africa

Dodetal in George-ramp styg tot 12

───   15:00 Fri, 10 May 2024

Dodetal in George-ramp styg tot 12 | News Article
Amptelike hommeltuigbeeldmateriaal. Foto: George-munisipaliteit

“Reddingswerkers se fokus het nié van redding na opruiming verander nie.”

Die dodetal ná die George-ramp – waar ’n vyfverdiepinggebou wat in aanbou was, Maandag (6/5) ineengestort het – het tot twaalf gestyg nadat drie liggame Vrydagoggend uit die puin gehaal is en nog ’n slagoffer in die hospitaal oorlede is . Daar word steeds na 41 mense gesoek, nadat 40 mense tot dusver uitgehaal is.

Terwyl geliefdes steeds bid vir ’n wonderwerk, vervaag die hoop om nog werkers lewend te vind. ’n Amptenaar sê hulle het nog nie op hulpbronne begin afskaal nie, so hulle het nog nie hul fokus van redding na opruiming verander nie.

Die regering het bevestig dat altesaam 81 konstruksiewerkers op die terrein was toe die gebou Maandag in die Suid-Kaapse stad ineengestort het. Die hersiene getal is Donderdag bevestig na aanleiding van ’n vorige berig dat 75 mense op die bouperseel aangemeld was tydens die voorval.

Thulas Nxesi, minister van Indiensneming en Arbeid, het die terrein van die ineengestorte gebou besoek, waar hy met die plaaslike en provinsiale regeringsamptenare (beroepsgesondheid- en veiligheidsinspekteurs) gepraat het om ’n opdatering te kry oor die reddingspogings.

Hoogs bekwame reddingspanne pas steeds noukeurige reddingstegnieke toe. Groot grondverskuiwingsmasjinerie het Vrydag (10/5) in die vroeë oggendure op die ongelukstoneel aangekom. Vragmotors het volgens die munisipaliteit twee laaigrawe (5 t), drie laaigrawe (20 t), hamers, emmers en drie voorlaaiers vanuit Kaapstad afgelewer. Die vragmotors sal ook help met opruiming.

“Die reddingsoperasie bly ’n multi-agentskap-benadering, wat plaaslike uitgrawingskontrakteurs en die distrikspadingenieur betrek het. Ten spyte van die verkryging van groot masjinerie, sal reddingstegnieke steeds noukeurig en sensitief toegepas word deur die hoogs bekwame en ervare rampbestuurspan,” lui ’n verklaring wat deur die George-munisipaliteit uitgereik is.


Druk neem nou ook toe vir antwoorde ná die dood van die konstruksiewerkers, met die dodetal wat na verwagting aansienlik gaan styg.

Die Sowetan berig die ontwikkelaars van die woonstelgebou het blykbaar verdwyn namate openbare druk vir antwoorde toeneem en te midde van bewerings van swak vakmanskap op die terrein.

Carel Swanepoel, eienaar van Pacific Breeze Trading 91, ’n filiaal van Neo Trend Group, en kontrakteur Theunis Kruger, die eienaar van Liatel Developments, het hul maatskappybladsye van die internet verwyder, terwyl eiendomsagent Ronel van der Walt, wat die luukse woonstelle bemark het, beweer het sy weet nie waar hulle is nie.

Die departement sê regstappe teen die eienaars gaan volg nadat pogings om hulle te dagvaar geïgnoreer is.

Pacific Breeze het volgens die Sowetan in Augustus 2020 die stuk grond van 1 220 vierkante meter vir sowat R3 miljoen gekoop, en in November dieselfde jaar het Swanepoel aansoek gedoen om dit te laat hersoneer om ’n drieverdiepingwoonstelblok te bou. Die gebou se grootte is egter later vergroot tot ’n vierverdiepingstruktuur met bykomende parkeerplek vir 66 motors.

Die plan is daarna in Januarie deur  Jan Vrolijk, stadsbeplanner, en Clinton Petersen, senior direkteur van stedelike beplanning, goedgekeur. In Maart, twee maande later, het Vrolijk op versoek van die ontwikkelaar ’n vyfde vloer bygevoeg.

Laastens is hersoneringsplanne in Desember 2022 by die munisipaliteit ingedien voordat dit in Julie verlede jaar deur die raad goedgekeur is.


“Die dag toe ons hier aangekom het, het ons probeer om kontak te maak met die kliënt, wat die eienaar van hierdie perseel is. Ons het na hul adres op ons stelsel gegaan en dit was gesluit,” het hoofinspekteur David Esau gesê.

“Ons het voortgegaan om ’n dagvaarding uit te reik en tot vandag toe was daar geen reaksie van daardie spesifieke persoon nie. Ons sal voortgaan met ons regsprosesse.

“Ek hoor oral dat hy kontak maak met mense deur sy prokureurs. Dit is nie ons saak nie. Hy is deur die wet verplig om in kontak te wees met die departement van arbeid.”

Nxesi sê hulle het belangrike boudokumente ingesamel. “Wat ons gedoen het, was om die rekords te beveilig, want dit is deel van ons protokol om te verseker dat  geen rekords moet verdwyn nie. Tot dusver, volgens my inligting, weet ons nie waar hulle is nie.”

Die Neo Trend-group het sedertdien sy webblad, LinkedIn- en Facebook-platforms verwyder. Foto: X

Swanepoel se prokureur, Hanno Brummer van Herbie Oosthuizen-prokureurs, sê dit is onwaar dat sy kliënt verdwyn het. “Die amptenare het na die verkeerde plek gegaan. ’n Amptenaar met die naam van Nonhle het haar besigheidskaartjie by ’n koffiewinkel agtergelaat en ons het haar sonder sukses in die hande probeer kry. Ons sal met die departement saamwerk,” sê Brummer.

Van der Walt, die eiendomsagent, sê sy het niks van haar kliënt, Swanepoel, gehoor nie. Sy het oproepe ontvang van mense wat woonstelle by Neo Victoria 75 gekoop het. Die eenhede verkoop vir sowat R1,7 miljoen.

’n Reklamebord tydens soek- en reddingspogings by die Neo Victoria-woonstelgebou in Victoriastraat, George. Foto: Jaco Marais

“Ek het geen idee [waar hulle is nie] ... Die eerste ding wat ek gedoen het, was om my kopers in te lig ... en almal is baie bekommerd oor die betrokke werkers, nie net oor hul geld nie.”

Die woonstelle is bemark as goed geleë in George met asemrowende uitsigte oor die Outeniekwaberge, slegs ’n paar kilometer van luukse restaurante en skilderagtige strande en mere wat langs die Tuinroete strek.

President Cyril Ramaphosa het ook Dinsdag sy medelye betuig en gesê sy gedagtes is by die families wat geliefdes verloor het sowel as die families van tientalle mense wat in die puin vasgekeer is. Hy het ’n beroep gedoen dat ’n ondersoek oor die voorval “afsluiting vir die gemeenskap moet bring en ’n herhaling van hierdie ramp moet voorkom”.


Nxesi sê die polisie is in beheer in hierdie stadium en sal toegelaat word om hul werk ongehinderd te doen totdat hul ondersoek afgehandel is.

“Die polisie sal in ’n stadium, sodra hulle klaar is, hul inligting aan die departement oorhandig, wat met sy eie ondersoek sal kan begin. Ons ondersoek normaalweg sulke voorvalle in die lig van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, veral artikel 31 en 32.” 

“Enige belanghebbende partye wat hul ondersoeke wil doen, sal dit doen, maar ons sal ook ons eie ondersoek doen en ons sal deur die polisie ingelig word sodra hulle klaar is.”

Hy het beklemtoon dat die departement nie wil bespiegel oor wat gebeur het nie, maar alles aan die ondersoekers sal oorlaat. “Sodra die ondersoeke die feite kan blootlê, sal ons dit bespreek.”

Reddingswerkers gaan voort met hul soektog. Foto: CNN/Skermgreep

“Ons is ook ingelig dat die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) betrek is omdat ons nie sal kan kommunikeer met van die families, weens die tale. Ons moet met die verskillende sendings wat hier in Suid-Afrika is praat om hul mense te stuur … sodat hulle behoorlik met die families kan kommunikeer,” sê Nxesi.

Die minister het verder ’n beroep op die werkgewer van die konstruksiewerkers of die konstruksie-eienaars gedoen om na vore te kom en met die families van die werkers te praat. “Tot dusver, in terme van wat ek ingelig is, weet ons nie waar hulle is nie,” sê Nxesi.

Gesondheidsminister Joe Phaahla sal na verwagting later vandag die toneel besoek. Die burgemeester, Leon van Wyk, het sy waardering uitgespreek vir die werk wat tot dusver deur die multidissiplinêre noodspanne gedoen is. Hy het reddingswerkers en alle betrokke belanghebbendes, organisasies, die media en die publiek geloof en verklaar dat almal se pogings, tesame met die nuutste toerusting, ’n wêreldklas-reddingspoging is.

Caxton het ’n brief van Neo Victoria Developments ontvang wat al die maatskappye en entiteite wat by die ontwikkeling en konstruksie van die gebou betrokke is, bevestig.

Die brief lui dat mediaberigte, wat verwys het na Ice Projects Pty Ltd wat by die ontwikkeling betrokke was, feitelik verkeerd is. “Hierdie party is nie in enige hoedanigheid by die ontwikkeling betrokke nie.”

Voor die ineenstorting het Ice Projects Pty Ltd se logo egter op die webwerf en woonstelgebou se eiendomsraad verskyn.

Theunis Frans Kruger, eienaar van Liatel Developments. Foto: Krugerattorneys.co.za

Neo Victoria Developments het die volgende lys van entiteite verskaf wat betrokke is by die ontwikkeling en konstruksie van die gebou:

- Ontwikkelingskoördinering en bestuur: Neotrend Developments Pty Ltd & East Africa Development Pty Ltd

- Die ontwikkelingskontrakteur in beheer van die konstruksie- en bouperseel: Liatel Developments Pty Ltd

- Strukturele en siviele ingenieur: Mitchell & Associates

- Projek-argitek: Deon van der Westhuizen Argitekte cc

- Hoofagent: Mitchell & Associates

- Bourekenaar: Matla Bourekenaars Edms Bpk

- Gesondheid- en veiligheidsbeampte: 4Front Safety and Security Consultants Pty Ltd

- Elektriese ingenieur: Clinkscales Maughan-Brown Pty Ltd

- Brandweeringenieur: Duane Hodges, Raadgewende Ingenieur

Die brief lui verder dat hulle as eienaars en ontwikkelaars erg geskok is weens hierdie katastrofiese ramp. “As grondeienaars en ontwikkelaars het ons daartoe verbind om met die ondersoekspanne saam te werk om so gou as prakties moontlik te ontleed en te evalueer wat nodig is.”

Neo Victoria Developments sê die prioriteit bly om aandag te gee aan slagoffers van die ramp. Die ontwikkelaars het hul waardering uitgespreek teenoor die George-munisipaliteit en plaaslike gemeenskap wat hulp verleen.

“Die ontwikkelingspan is ten volle toegewyd en ondersteun die ondersoeke wat deur die premier van die Wes-Kaap in die vooruitsig gestel word om die oorsaak van die tragedie vas te stel en onderneem om ten volle met alle owerhede saam te werk.

“Ons treur oor die lewensverlies, die beserings wat opgedoen is en die rou van die geliefdes en gesinne wat geraak is. Ons is diep geraak deur die optrede van die reddingspanne en owerhede.”

Registrasieraad reageer

Die Nasionale Huisbouersregistrasieraad (NHBRC) sê die raad toon berou met al die mense wat deur die ineenstorting geraak is.  “Terwyl die soek-en-reddingsoperasie voortduur, wag ons op die uitslag van ’n forensiese ondersoek wat aan die gang is om die oorsaak van die gebou se ineenstorting te bepaal.

“Die uitslag van die geregtelike doodsondersoek en forensiese ondersoek sal die pad vorentoe bepaal.”

OFM Nuus cg/mc/dg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.