South Africa
Nóg ’n verdagte in hof in verband met Joshlin se verdwyning─── 15:33 Mon, 18 Mar 2024

“Besonderhede oor Lombaard se betrokkenheid by die verdwyning van Joshlin Smith is nog onbekend.”
’n Twee-en-dertigjarige vrou, wat in verband met die verdwyning van Joshlin Smith (6) in die Wes-Kaap in hegtenis geneem is, is in aanhouding.
Lourentia Lombaard het Maandag (18/3) in die Vredenburgse landdroshof verskyn, sê Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder. Sy word aangekla van mensehandel en ontvoering. Hy sê die saak is tot volgende Maandag vir borgtoginligting uitgestel.
Joshlin Smith disappearance: Latest accused 'confessed', State says, but no details provided https://t.co/s9se4gExCg
— Yusuf Abramjee (@Abramjee) March 18, 2024
Joshlin se ma, Kelly Chantel Smith (32), haar kêrel, Jacquin (Boeta) Appollis (31), en ’n derde beskuldigde, Steveno van Rhyn (27), is reeds in aanhouding. Hulle het hul borgaansoek laat vaar.
Hulle staan tereg op aanklagte van ontvoering en mensehandel. Hulle saak is tot 13 Mei uitgestel. Aanklagte teen ’n vierde beskuldigde, Phumza Siqaba, is verlede week teruggetrek.
Volgens Swisherpost is besonderhede oor Lombaard se betrokkenheid by Joshlin se verdwyning nog onbekend. Die polisie is versigtig om sensitiewe inligting bekend te maak te midde van ’n voortslepende ondersoek.
“Dit is normale praktyk dat mense van belang tydens sulke ingewikkelde ondersoeke vir ondervraging ingeneem sal word.
“In die belang daarvan om hierdie saak op te los en Joshlin op te spoor, kan ons nie operasionele besonderhede bekend maak nie aangesien die soektog na Joshlin Smith ontvou en dit moontlik die voortgesette ondersoek in gevaar kan stel,” sê lt.kol. Malcolm Pojie, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder.
Die soektog na Joshlin duur voort.
OFM Nuus cg/dg/mc