On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

South Africa

Amerikaanse siener weet glo waar vermiste Joshlin Smith is

───   16:11 Fri, 08 Mar 2024

Amerikaanse siener weet glo waar vermiste Joshlin Smith is | News Article
Die Amerikaanse siener Kandis Starr sê sy het inligting oor Joshlin Smith. Foto: Skermgreep/YouTube

“Kandis Starr het in ’n ‘energielesing’ kontak met Joshlin gemaak.”

’n Amerikaanse siener, wat dikwels oor die lot van vermiste kinders geraadpleeg word, sê sy kan “sien” waarheen Joshlin Smith (6) met haar verdwyning geneem is, maar het Suid-Afrikaners se hulp nodig om moontlike bakens te identifiseer.

Kandis Starr sê in ’n onderhoud met die nuuswebwerf The South African sy het in ’n “energielesing” kontak met Joshlin gemaak en kan “sien” die meisie is op ’n "lang, hobbelrige pad na ’n sanderige, stowwerige gebied” geneem.

‘Ek wil graag geregtigheid vir Joshlin kry’

“Die probleem is, ek is nie vertroud met Suid-Afrika se plekname en uitsprake nie en sal dalk die boodskap mis. Ek moet op Suid-Afrikaners staatmaak om te ontsyfer wat hulle hoor. Ek wil graag geregtigheid vir Joshlin kry.”

Sy sê op YouTube dat sy deur Suid-Afrikaners genader is nadat die gr. 1-leerder op 19 Februarie spoorloos verdwyn het terwyl sy in haar ma, Raquel (Kelly) Smith, se kêrel, Jacquin (Boeta) Appollis, se sorg was.  

Joshlin Smith word al byna drie weke vermis. Foto verskaf

Kelly, Apollis, die vermeende sangoma Phumza Sigaqa en Steveno van Rhyn het Donderdag (7/3) voorgekom in die Vredenburgse landdroshof op aanklagte van mensehandel en ontvoering.

Volgens die staat het Kelly vir Boeta en Steveno opdrag gegee om Joshlin aan die sangoma vir R20 000 te verkoop. Die geld was moontlik om dwelms te koop. Hulle bly in aanhouding, en die saak is tot 13 Maart uitgestel vir inligting oor borgtog.

‘Ek voel die mishandeling aan’

Haar verdwyning en die verdagtes se hofverskyning het wêreldwyd opslae gemaak. Starr laat blyk op YouTube sy glo Joshlin is dood en dat sy “deur Apollis seergemaak is”.

Tydens die energielesing het sy opgemerk: “Ek sien ’n huisie met ’n lang donker bank. Sy sit op die rand daarvan en huil. Sy sê dit is nie die eerste keer nie. Ek voel die mishandeling aan.

“Sy sê sy is bang wanneer dit tyd is vir haar middagslapie. Sy maak asof sy slaap. Ek voel dit is asof hy weet sy slaap nie regtig nie.

'Haar ma het 'n muur om haar gebou'

“Ek probeer haar ma se energie sien. Haar ma het letterlik ’n muur om haar gebou. Dis asof sy ’n teken bo haar kop het wat sê ‘mishandeling’.  Sy laat niemand toe nie.

“Wat het daardie dag gebeur, baby? Sy het iets gesê wat hom bang gemaak het. ‘Ek gaan vir Mamma sê.’ O, o, sy gaan gekneus wees. Sy het die verkeerde ding gesê, maar dit was nie verkeerd nie. Sy het seergekry. Ek dink dit is hier waar dit geëindig het.

“Ek weet nie of hy ’n gat gegrawe het en of daar reeds iets soos ’n gat was nie. Dit voel asof die aarde teruggetrek word.”

Starr sê dit was een van haar moeilikste sessies. “My hart is nou so seer. Ek wil nie meer nie. Ek het nie woorde nie.”

Joshlin het vanuit dié sinkhuisie in Middelpos, Saldanhabaai, verdwyn. Foto: Reuters/Skermgreep

Die polisie bied ’n beloning van R250 000 aan vir inligting wat kan lei na waar Joshlin haar bevind nadat ’n uitgebreide soektog deur inwoners, die vloot, hommeltuie, polisieduikers en die polisie se honde-eenheid tot dusver onsuksesvol was. 

Die polisie het bloedbevlekte klere in ’n veld gevind en dit is vir forensiese toetse gestuur, waarvan die besonderhede nie met die publiek gedeel is nie, berig The Citizen.

Joshlin se ma het in ’n regstreekse uitsending op Facebook met Gayton McKenzie, leier van die Patriotiese Alliansie, beken dat sy tik gebruik, maar beweer sy het “opgehou gebruik die dag toe (Joshlin) verdwyn het”.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg/mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.