South Africa
Jong Afrikaanse sanger deel goeie nuus oor kanker─── 14:09 Thu, 11 Jan 2024
“As ek nou moet gaan, gaan ek huis toe. Ek vra net dat julle bid.”
’n Oorstelpte Jan Bloukaas (oftewel Jean du Plessis) het op sosiale media die goeie nuus met sy “kaaskoppe” gedeel dat ’n skandering toon die breinkankergewas waarmee hy al sedert 2022 saamleef, besig is om te verklein.
“Ek het verwag die kanker sou gegroei het; ons sou happy gewees het as dit net dieselfde sou gebly het. Hy het verklein, is steeds besig om kleiner te raak. Besig om dowwer te raak, wat beteken hy is besig om af te breek. Dames en here, God leef!”
‘Ek is so dankbaar vir my lewe’
Twee dae voor die skandering gewys het dat die kwaadaardige gewas aan sy breinstam gekrimp het, het die 23-jarige sanger huilend op Instagram gepleit: “As dit slegte nuus is, asseblief laat dit nie iemand se rede tot wangeloof in God … wees nie. God is amazing. Ek is so dankbaar vir my lewe.
Jean du Plessis se trane vloei voor die skandering. Foto: Instagram/skermgreep
“As ek nou moet gaan, gaan ek huis toe. Ek vra net dat julle bid.”
Einde verlede jaar het hy sy kanker bedank vir die stryd. “Ek weet vandag is ek nie bang vir jou nie. Nie eens ’n klein bietjie nie. Ek gaan celebrate dat jy my nie eens in ’n jaar kon vat nie. Jy’s niks sonder my nie.”
Jan Bloukaas het die musiekwêreld oorweldig met sy enkelsnit “Kaas elke dag”, wat hy in 2017, toe hy nog in matriek was, uitgereik het. Hy is in 2019 vir ’n Suid-Afrikaanse Musiekprys (Sama) benoem.
Nadat kanker by hom gediagnoseer is, het hy in ’n onderhoud met Huisgenoot gesê die verwoestende nuus sal nie sy gees demp nie en dat hy sal voortgaan om musiek te maak.
Jean du Plessis aam met sy ouers, Ronel en Daan. Foto: Facebook
Op Facebook bring hy hulde aan sy ouers, Ronel en Daan du Plessis. “Ek wil my twee main mense bedank. Jis, Mamma en Pappa het my gedra deur hierdie sessies. Ure gebid en gery en gesorg vir my. Ek sal nooit julle kan terugbetaal nie; ek sal vir ewig julle grootste fan bly. Bitter, bitter, bitter lief vir Mamma en Pappa. Dankie vir alles.”
Toekomsvisie: As agtjarige het Jean du Plessis ’n plan bedink om kanker te oorwin. Hy deel dié “navorsing” op sy Facebook-blad.
OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg