On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

South Africa

‘Vakansie-swendelaar’ François Swart op borgtog vrygelaat

───   ZENANDE MPAME 15:33 Wed, 10 Jan 2024

‘Vakansie-swendelaar’ François Swart op borgtog vrygelaat  | News Article
François Swart. Foto: priorityescapes.com

“Hy het homself aan die polisie oorgegee nadat ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is.”

Die besturende direkteur van Priority Escapes is deur die Modimolle-landdroshof op borgtog van R6 000 vrygelaat nadat hy homself aan die polisie oorgegee het.

“François Swart sal na verwagting weer in Februarie 2024 in die hof verskyn nadat hy op Donderdag 28 Desember borgtog op Modimolle toegestaan is,” sê Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder in Limpopo.

Die polisie in Limpopo het in Desember ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van Swart uitgereik omdat hy na bewering talle voornemende vakansiegangers uit honderdduisende rande bedrieg het.

‘Swart sal in Februarie 2024 in die hof verskyn’

’n Egpaar van Modimolle is na bewering in Augustus deur Priority Escapes uit meer as R130 000 bedrieg. Nadat hulle gesê het hulle het die geld aan die reisagentskap oorgeplaas, het Swart aan hulle dokumentasie verskaf wat die besonderhede van hul vlugte en verblyf bevestig. Die dokumente was vervals.

“Ons is tevrede dat die regsproses om hom aanspreeklik te hou vir sy beweerde oortredings, aan die gang is, hoewel die voorwaardes vir sy vrylating op borgtog nog nie vasgestel is nie,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid.

Swart het kliënte ingelig dat die reisagentskap nie kan bekostig om sy skuld te betaal nie en dit verhoed die kliënte om betaalde reise na die buiteland te onderneem. Die onderneming in Fourways, Gauteng, het sy sosialemediarekeninge en webtuiste uitgevee.

Die besturende direkteur van Priority Escapes, Francois Swart. Foto: priorityescapes.com

“Die eenheid sal die ontwikkelinge noukeurig dophou en ondersteuning aan die polisie en die NVG gee as ons gevra word,” sê Nel.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.