South Africa
Nuwe beleid oor drank en dwelms ‘welkom, maar skiet te kort’─── 09:09 Sat, 09 Dec 2023
‘Die voorstel is om met aksynsbelasting ’n fonds te stig om die skade van drank te verminder.’
“’n Nuwe beleid oor die voorkoming en behandeling van versteurings wat met drank- en dwelms verband hou word verwelkom. Dit ontbreek egter die meganisme om die skadelike gevolge van alkohol aan te spreek.”
Aan die woord is Zimasa Mpemnyama, projekleier en woordvoerder van die DG Murray-trust (DGMT) se Alcohol Harms Reduction-veldtog. DGMT is ’n nie-regeringsorganisasie wat fokus op vroeë kinderontwikkeling, jeugopvoeding, werksgeleenthede en die ondersteuning van kwesbare groepe.
Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het onlangs sy beleid oor die voorkoming en behandeling van drank- en dwelmmisbruik-versteurings in die Staatskoerant gepubliseer is. Dit is daarop gemik om drank- en dwelmuitdagings aan te pak en bied ’n platform oor die betrokkenheid van belanghebbendes en die funksionering van die Alkohol- en Dwelmadviesraad.
‘Voortdurende dwelmmisbruik onder kinders’
“Die behoefte aan vinnige optrede is te wyte aan voortdurende dwelmmisbruik, veral onder kinders,” sê Lumka Oliphant, woordvoerder van die departement.
“Drank- en dwelmmisbruik is 'n plaag en die oorsaak van baie van Suid-Afrika se maatskaplike, gesondheid- en ekonomiese probleme,” sê Mpemnyama. “'n Nuwe staatsbeleid wat die misbruik daarvan kan voorkom het ons kollektiewe insette nodig om te verseker dat die beleid kragdadig is en die publiek bevoordeel.”
‘Gebruik aksynsbelasting om skade van drank te verminder’
Sy sê dit is opvallend dat die konsepbeleid nie voorsiening maak vir ’n fonds om die skade van drank te verminder nie. “Die voorstel is dat aksynsbelasting vir dié fonds aangewend word. Dit sal ingrypingsprogramme wat die jeug en ander kwesbare groepe teiken en bewusmakingsveldtogte moontlik maak.
“Oormatige drinkery is 'n probleem wat ’n sosiale en ekonomiese impak het. Minder as ’n derde van Suid-Afrikaners gebruik alkohol, tog is ons 'n nasie van oormatige drinkers. Meer as die helfte van diegene wat drink, drink meer as vyf standaard drankies in een sitting.
Drankbedryf dra jaarliks R68 miljard by tot staatskas
“Die SA drankbedryf dra jaarliks na raming R68 miljard tot die staatskas by – sowat 3% van die land se totale bruto binnelandse produk by. Maar die indirekte en direkte skade weens oormatige drinkery kos die land baie meer.”
- Suid-Afrikaners het tot Sondag (10/12) geleentheid om insette op die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se beleid oor die voorkoming en behandeling van drank- en dwelmmisbruik-versteurings te lewer.
OFM-nuus/Christine van der Westhuizen/DZ