South Africa
Brandstofprysdaling ’n verligting voor feesseisoen─── 10:36 Sat, 02 Dec 2023
“Die gemiddelde internasionale produkpryse van petrol, diesel en paraffien het gedaal in ooreenstemming met die laer ruoliepryse.”
Suid-Afrikaanse motoriste sal verlig wees om te hoor die Departement van Minerale en Energie het gesê die prys van alle grade petrol en diesel gaan vroeg Desember daal.
In ’n verklaring Vrydag het die departement gesê beide grade petrol sal volgende Woensdag met 65 sent per liter verminder.
Woordvoerder Robert Maake sê diesel sal met tussen R2,35 en R2,41 per liter vir beide grade daal terwyl paraffien met R1,71 per liter sal daal.
Die kleinhandelprys van gas sal egter met R1,67 per kilogram styg as gevolg van die styging in die prys van propaan en butaan as gevolg van seisoenale vraag.
Minister Gwede Mantashe has announced fuel prices for December as follows, #FuelPricesUpdate. pic.twitter.com/nXyVDA3hgS
— Department of Mineral Resources and Energy ? (@DMRE_ZA) December 1, 2023
Maake het gesê die gemiddelde internasionale produkpryse van petrol, diesel en paraffien het gedaal in ooreenstemming met die laer ruoliepryse.
“Diesel- en paraffienpryse het meer as petrol gedaal as gevolg van verhoogde produksie van middeldistillate deur raffinaderye om voorsiening te maak vir die verwagte toename in vraag gedurende die komende winterseisoen in die Noordelike Halfrond.”
Maake het gesê die balansfonds het einde Oktober 2023 ’n negatiewe saldo van R3,1 miljard gehad. “Daarom sal ’n balansfondsheffing van 26,32c/l vanaf 6 Desember 2023 in die prysstruktuur van petrol en diesel geïmplementeer word. Dit beteken dat motoriste met 26,30 sent per liter sal baat aangesien die heffing van 52,62c/l tot 26,32c/l sal daal.”
Ingevolge nuwe reëls vir die balansfonds, wat vroeër in 2022 aangekondig is, sal die balansfondsheffing wegval indien die fonds sterker is as -R500 miljoen.
OFM Nuus Corné