On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

‘Vryheid betekenisloos sonder kos of werk’ – VF Plus

───   11:23 Thu, 27 Apr 2023

‘Vryheid betekenisloos sonder kos of werk’ – VF Plus | News Article
Leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Groenewald/FOTO: Verskaf

“Onder die ANC-regering sal daar nooit sprake van vryheid wees nie,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus in sy Vryheidsdagboodskap.

Hy sê dit is daarom “allerbelangrik” om in aanstaande jaar se verkiesing van die ANC ontslae te raak om ware vryheid te bewerkstellig.

“Elke stemgeregtigde persoon in Suid-Afrika moet seker maak hy of sy is geregistreer om te kan stem. Wegblyers moet besef dat dit juis hul stil stem is wat die ANC vir nog ‘n termyn aan bewind kan hou.”

Groenewald sê Suid-Afrika kan die ANC nie langer bekostig nie. “Hoe langer die huidige regering aan bewind bly, hoe meer raak vryheid op elke gebied weggekalwe en hoe swakker raak die ekonomie.”

Hy het ook beklemtoon dat die VF Plus sal voortgaan in sy pogings om van rasdiskriminerende wette ontslae te raak. “Ons sal nie ophou om te wys op die ongeregtighede van swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie nie. Solank dit bestaan, sal minderhede in Suid-Afrika nie waarlik vry wees nie.”

Die party het vandeesweek sy ekonomiese herstelplan vir Suid-Afrika bekend gestel waarin aangedui word dat meer as 16 miljoen mense in 2019 werk gehad het. Tans het minder as 16 miljoen mense werk.

Die party se ekonomiese herstelplan behels die vervanging van swart ekonomiese bemagtiging met ‘n beleid van swart ekonomiese vaardigheidsoordrag.

“Ná bykans 30 jaar verskerp die regering steeds rasgegronde beleid en wetgewing wat veral minderhede teiken. Die jongste wysigingswetsontwerp van die Regstellende Aksie-wet, wat twee weke gelede deur pres. Cyril Ramaphosa afgeteken is, gee selfs groter magte aan die Minister van Arbeid om verdere rassekwotas eensydig op die private sektor af te dwing.

“Meriete en bevoegdheid speel geen rol nie, slegs kleur. Vaardigheidsoordrag en -ontwikkeling vind nie plaas nie en eindelik word almal benadeel.”

Potgieter sê die ANC “mislei die publiek deur voor te gee hy staan vir grondwetlike regte en vryheid vir almal”.

“Wanneer miljoene mense nie werk en kos het of ‘n dak oor die kop nie, is vryheid sonder betekenis.”

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.