On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Anny
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

South Africa

Motoris gesoek nadat Matie in tref-en-trap op Stellenbosch sterf

───   MORNÉ VAN ROOYEN 09:50 Sun, 12 Feb 2023

Motoris gesoek nadat Matie in tref-en-trap op Stellenbosch sterf  | News Article

’n Tweedejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch het Saterdagoggend 11 Februarie 2023 aan sy beserings beswyk nadat hy kort ná middernag op die studentedorp deur ’n motoris omgery is.

Dylan Georgiades (20), ’n B.Com.-student, was omstreeks halfeen die oggend te voet in Merrimanlaan op pad toe hy in die ongeluk betrokke was. Hy is na die plaaslike hospitaal geneem en later na die Mediclinic Vergelegen oorgeplaas, maar het daar aan sy beserings beswyk.

Wes-Kaapse polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie. Hulle vra enigeen met inligting moet die Stellenbosse polisie by 021-809-5000 bel.

US-woordvoerder,  Martin Viljoen, sê die universiteitgemeenskap het met skok en hartseer van Georgiades se dood verneem.

“Die dood van ’n student is altyd moeilik vir die universiteitsgemeenskap en des te meer hartseer aangesien studente op die punt staan om Maandag met klasse te begin,” sê prof. Deresh Ramjugernath, adjunk-visekanselier vir leer en onderrig.

Hy was in aanraking met Georgiades se ouers, Patrick en Diana van Pretoria, om Maties se meegevoel met sy naasbestaandes te betuig. Senior personeel van studentesake het ook kontak met hulle gemaak om ondersteuning te bied waar nodig.

Dylan Georgiades, Tyger Valley College

Dylan Georgiades was in 2021 hoofseun van die privaat skool Tyger Valley College in Pretoria. Foto: Facebook

Rumjugernath sê die US waardeer die ondersteuning van nooddienste, onder meer die Stellenbosse Hospitaal en Mediclinic Vergelegen, en die bystand van die universiteit se kampussekuriteit. Volgens hom kan studente wat berading nodig het, die 24-uur-krisisnommer ná ure by 010-205-3032 of tydens kantoorure by 021-808-4994.

‘Toonbeeld van ’n gentleman’

Ouers en ondersteuners van die privaat skool Tyger Valley College in die ooste van Pretoria waar Georgiades in 2021 hoofseun was, is geskok en hartseer oor sy onverwagte dood. “Dylan se dood is verpletterend en sal ons gemeenskap swaar tref,” skryf die skool in ’n Facebook-hulde aan ’n belowende oudleerder.

Sy destydse kindertuinonderwyseres, Claire Trendler, skryf Dylan was ’n “fenomenale” jong man. “Hy het die mees onberispelike maniere gehad en was gretig om te leer, selfs vanaf die jong ouderdom van vyf toe hy in my klas was.”

“Hy was die toonbeeld van ’n gentleman wat sy skool en gesin trots gemaak het met alles wat hy gedoen het,” skryf Clyde MacDonald, terwyl Barbara Toohey hom as ’n “ongelooflike” jong man beskryf het. “Hoogs inspirerend met sy entrepreneursvaardighede, sy beskeidenheid en wysheid.”


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.