South Africa
Rare groen komeet hierdie week sigbaar─── 17:04 Thu, 09 Feb 2023
![Rare groen komeet hierdie week sigbaar Rare groen komeet hierdie week sigbaar | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/920970b9-81fa-488b-9481-1b65ee3c38d5.jpg?crop=0,0,800,450)
‘n Rare komeet met ‘n groen tint wat 50 000 jaar gelede laas gesien is, is vandeesweek in die suidelike halfrond sigbaar.
Die komeet, amptelik bekend as C/2022 E3 (ZTF) was tot dusver te ver noord om in Suid-Afrika sigbaar te wees, maar is deesdae ná 20:30 met ’n verkyker sigbaar.
Die wêreldbekende sterrekundige David Block het aan SABC News gesê die komeet sal die 10de en 11de Februarie die helderste vir Suid-Afrikaners sigbaar wees. “As mense na die noorde kyk en die planeet Mars probeer vind, want Mars is 'n helderrooi kleur, dan sal die komeet in die omgewing van Mars wees.”
Die komeet is op 2 Maart 2022 ontdek terwyl dit deur Jupiter se wentelbaan beweeg het.
Hoekom is dit groen?
Volgens ‘n artikel deur The Citizen, is die groen tint waarskynlik te wyte aan die teenwoordigheid van diatomiese koolstof (dikoolstof) om die komeet se kop, en die manier waarop die C2-molekule uitmekaar gewaai word wanneer die komeet naby die son kom.
Dikoolstof is 'n groen, gasvormige anorganiese chemikalie, en vorm wanneer twee koolstofatome aan mekaar bind. Die C2-molekule ondergaan fotodissosiasie nadat dit uit die kern verdamp het, en dit is hierdie proses wat 'n komeet 'n groen gloed gee.