South Africa
Akteur Louis van Niekerk (87) se pragtige stem word stil─── 07:16 Wed, 08 Feb 2023
Die deurwinterde Suid-Afrikaanse akteur en regisseur Louis van Niekerk is Dinsdagaand (7 Februarie 2023) in die ouderdom van 87 jaar in die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorlede.
’n Jonger geslag TV-kykers sal hom onthou as Festus in die kykNET-sepie Getroud met rugby, waarvoor hy tot middel 2022 daagliks op die stel was. Dit het van hom waarskynlik die oudste werkende Afrikaanse akteur gemaak. ’n Dokumentêr oor sy lewe, Lokstem van dionusus, is in September op RSG uitgesaai.
Louis van Niekerk (regs) by die aktrise Wilna Snyman en Bob Martin in 2016. Foto: Facebook
’Soveel wysheid, menslikheid, talent en chutzpah’
Vriende en kollegas bring vandag hulde aan hom op Facebook. “Dit was ’n voorreg om jou te ken,” skryf sy goeie vriendin Jenine Coetzer. “Jy het ons lewe verryk, weg van die verhoog en die kameras, uit die kollig, sommer net Louis by ons gewone pêlle. Ons onthou jou met soveel liefde.”
“Louis was ’n besonderse mens met soveel wysheid, menslikheid, talent en chutzpah,” skryf Martjie Roos. “Hy was altyd dieselfde en het op almal wat hom ontmoet het, ’n indruk gemaak. Nederig en vriendelik.”
Die akteur Sean van Noordwyk skryf Louis was die eerste een wat hom onder sy vlerk geneem en gementor het by Getroud met rugby. “Sy liefde en passie vir teater was iets wat ek nagestreef het … My laaste dag op stel, toe ek almal groet, het hy in my oor gefluister: ‘Jy het die beste besluit gemaak.’ Waar ek toe vir hom bedank en sê: ‘Ek gaan Oom trots maak.’ RIV, oom Louis! En dankie vir wat jy vir my in my lewe beteken.”
’n Jare lange vriendin, Jenine Coetzer, onthou hom as iemand wat soveel mense se lewe verryk het. Foto: Facebook
‘Geweldig oopkop, ten spyte van ouskoolwaardes’
“Louis was fabelagtig talentvol, ou skool, uiters professioneel, maar ten spyte van sy ouskoolwaardes geweldig oopkop,” vertel die aktrise Lizz Meiring aan OFM Nuus. “Hy was ook die man wat in die apartheidstyd grense begin afbreek het en bruin en swart akteurs saam met die ander akteurs by die destydse Truk geïntegreer het, en hy was ook betrokke by die stigting van Eruk (Eersterus se Raad vir die Uitvoerende Kunste), wat spesifiek al die wonderlike bruin speler bygetrek het by produksies.”
Sy vertel met ’n glimlag in haar stem op ’n persoonlike vlak het sy hom “eintlik maar geken as die sagte hartjie, maar die oënskynlike ysterhand. Hy was ’n liefie, en niemand het meer omgegee vir sy medemense in die bedryf as Louis nie, of dit nou tegnici, of akteurs, of administrateurs of wie ook al was. Hy het absoluut die botoon gevoer om te help om die Teaterbystandfonds tot stand te bring en te sorg dat daar hulp gegee word.”
Meiring sê sy het Van Niekerk geken as ’n man met ’n wonderlik humorsin en as baie regverdig. "Hy het elke groot rol wat daar was, gespeel en dit wonderlik gespeel. En natuurlik saam met die groot legendes ook gewerk: Sandra Prinsloo, Marius Weyers … Ek was bevoorreg om as baie jong aktrise teenoor hom te kon speel en het geweldig baie by hom geleer.”
Sy sê die breë publiek sal hom onthou as Festus, “maar hy het natuurlik groot rolle gespeel in film, teater, televisie, op radio … Daai stem, daai pragtige stem en daai ongelooflike vermoë om ’n gehoor vasgenael te hou, dit was Louis van Niekerk. Ek beskou myself as bevoorreg om te geken het en saam met hom te gewerk het, en ook vir alles wat hy vir ons bedryf beteken het.”
By die aktrise Sandra Prinsloo, teenoor wie hy dekades gelede vir Truk gespeel het. Foto: Facebook
Teaterman by uitstek
Sy eerste liefde was al die jare die verhoog, veral die toneelstukke van Shakespeare. Sy gunstelingrol van dié Engelse dramaturg was Prospero in The Tempest nadat hy reeds in 1964 sy Shakespeare-debuut gemaak het in Twaalfde nag, Uys Krige se Afrikaanse vertaling van Twelfth Night. Later het ook onder meer Krige se Koning Lear-vertaling gevolg. In die biografiese dokumentêr het hy egter vertel hy het TV- en rolprentwerk begin aanvaar om ’n standhoudende inkomste te verseker.
Ouer geslagte kykers het hom leer ken as Mattewis in PG du Plessis se TV-verwerking van Mikro se Mattewis en Meraai teenoor Anette Engelbrecht. Later het rolle gevolg in reekse soos Amalia, Hartland, Villa Rosa, Agter elke man en Grondbaronne.
Van Niekerk is op 27 Junie 1935 op Stellenbosch gebore, maar het in 1955 na Pretoria verhuis. Sy eerste rol was op 12-jarige ouderdom in Babs Laker sê Ek onthou vir Mamma. In Pretoria het hy vir verskeie amateurtoneelgeselskappe opgetree, tot hy in 1961 op ’n gereelde grondslag vir die Volksteater begin werk het en in 1964 by die destyds Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Truk) aangesluit het. Sy eerste professionele rol was in Die besoek van die ou dame. By Truk het hy sy debuut gemaak in Bruidjie dit en bruidjie dot.
Lizz Meiring beskryf hom as "’n liefie, ten spyte van sy oënskynlike ysterhand”. Foto: Verskaf
Met sy kenmerkende diep stem het hy ’n staatmaker van Truk se Afrikaanse toneelgeselskap geword, en in die laat sewentigerjare toneelhoof. As verhoogakteur het hy saam met akteurs opgetree soos Sandra Prinsloo en Marius Weyers (Othello, 1975), Wilna Snyman (Die leeu in die winter, 1982), Elize Cawood en Yvonne Bryceland (The Road to Mecca, 1984).
As vertaler was hy onder meer verantwoordelik vir Dood van ’n handelsreisiger (Arthur Miller), waarin hy in 1984 teenoor Louw Verwey opgetree het en Eendsonderend (oorspronklik The Duck Variations, 2011).
In die tagtigerjare is hy bevorder tot Truk se artistieke hoof. As regisseur het hy die regie van sowat 25 toneelstukk behartig, waaronder Kanna hy kô hystoe, Die dagboek van Anne Frank en Die koopman van Venesië, nog ’n Shakespeare-vertaling. In sy 33 jaar by Truk was hy by meer as 200 produksies betrokke en het hy vier merietetoekennings ontvang.
Van Niekerk het die laaste jare in 'n aftrede in die noorde van Johannesburg gewoon, maar was nog tot 2022 elke dag op die stel van die sepie Getroud met rugby, waarin hy Festus gespeel het. Foto: Facebook
Enduit aan die gang
Van aftree was daar vir Van Niekerk nooit sprake nie. Hy was tot Augustus 2009 as toesighoudende vervaardiger by die M-Net-sepie Egoli betrokke en het tot sy dood kosbare werk gedoen as voorsitter van die Teaterbystandsfonds, wat akteurs help wat swaarkry.
Van Niekerk is in 1990 vereer met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Erepenning vir Toneelkuns. In 2005 het hy die ATKV se Afrikoon-prys ontvang en hy is ook bekroon met die Nalediprys vir sy lewenslange bydrae tot die teater. In 2012 het hy ’n Fiësta gekry, ook vir sy lewenslange bydrae tot die teater.
Hy was getroud met Lettie Scheepers, wat in 1983 oorlede is. Hy en sy seun die akteur en regisseur Gert van Niekerk het ’n pa en seun gespeel in Franz Marx se dramareeks Grondbaronne. Hy word ook oorleef deur sy ander seun, Drikus, twee kleinkinders en drie agterkleinkinders.
Sien onderhoude op Theatre Lives: Louis van Niekerk