South Africa
Partye betreur heengaan van ACDP-leier se vrou─── 08:29 Thu, 26 Jan 2023

Die African Christian Democratic Party (ACDP) het Woensdag die heengaan van dr. Lydia Meshoe, medestigter van die party en vrou van die partyleier, eerw. Kenneth Meshoe, bevestig.
Sy het as 'n partylid in die Gautengse Provinsiale Wetgewer gedien.
Verskeie partye het boodskappe van medelye gedeel.
Die leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Groenewald, het in 'n verklaring sy medelye teenoor eerw. Meshoe, die Meshoe-gesin en die ACDP uitgespreek.
“Dit is altyd hartseer wanneer ’n gesinsvrou tot sterwe kom, omdat sy gewoonlik die samebindende faktor is wat ’n gesin en familie saamsnoer en almal se lief en leed deel.
“Die VF Plus bid die Meshoe-gesin vertroosting toe.”
The Citizen haal die Ekonomiese Vryheidvegters (EFF) aan wat dr. Meshoe beskryf as " 'n vrou van sterk geloof en oortuiging, wat 'n groot deel van haar lewe in diens van die mense van Suid-Afrika deur haar politieke party gestaan het."
“Haar heengaan bring nie net pyn vir haar politieke party nie, maar laat 'n leemte in 'n land wat desperaat is vir etiese leierskap.”
Die begrafnisreëlings is nog nie bekend gemaak nie.