South Africa
Ontsnapte tier val man, hond in Johannesburg aan─── 08:20 Mon, 16 Jan 2023

Inwoners van Walkerville, suid van Johannesburg, is op hul hoede nadat 'n tierwyfie Saterdagaand van 'n kleinhoewe ontsnap het en Sondagoggend ‘n man en sy hond aangeval het.
Gresham Mandy van Walkerville se gemeenskapspolisiëringsforum het aan Newzroom Afrika gesê die tier het 'n 39-jarige man en sy hond sowat ‘n kilometer van die kleinhoewe aangeval, terwyl hulle besig was om te stap.
“Hy het gebuk om sy skoene vas te maak. sy het hom van agter aangeval, hy het geskree, en toe hardloop mense uit een van die huise met fakkels en slaag daarin om die tier weg te jaag.”
Die man is vir behandeling hospitaal toe geneem. Die Dierebeskermingsvereniging het die erg beseerde hond op die toneel uitgesit.
Na wat verneem word, is die groot kat deel van 'n tierpaar in private besit op 'n kleinhoewe op Walkers Fruit Farms. Verskeie wilde diere word glo op die hoewe aangehou, waaronder sebras en rendiere.
Die dier het na wat verneem word, ontsnap toe die heinings om die kleinhoewe Saterdagaand geknip is, vermoedelik deur inbrekers. Die tier het glo ‘n rendier op die eiendom gevang en doodgemaak voordat sy van die kleinhoewe ontsnap het.
‘n Polisiehelikopter word in die soektog ingespan.
Inwoners is gewaarsku om waaksaam te wees.
Mandy het aan eNCA gesê die tiermannetjie is deur ‘n veearts verdoof en na ‘n veilige plek verskuif.