On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

South Africa

Studie toon "sout, eier, olie" meeste in Afrikaanse resepte gebruik

───   06:58 Tue, 01 Nov 2022

Studie toon "sout, eier, olie" meeste in Afrikaanse resepte gebruik | News Article
FOTO: Voice of Health

’n Navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat se Departement Rekenaarwetenskap en Informatika, Burgert Senekal, het ’n verkenning van die “bestanddeel-resepnetwerk” in Afrikaanse resepte gemaak.

‘n Uiteensetting van sy studie, Wat eet Afrikaners? ‘n Verkenning van die bestanddeel-resep-netwerk in Afrikaanse resepte is op die joernaalwebwerf LitNet gepubliseer.  

"Daar is bevind dat daar gemiddeld 10 bestanddele per resep is, met sout, eier, olie, peper, botter, water, suiker, kaas, melk en room wat in die grootste aantal resepte voorkom.

“Speserye is die bestanddele wat in die meeste resepte verskyn, gevolg deur suiwel, plantprodukte, groente en vleis. Neute, alkoholiese drankies en seekos kom in die minste aantal resepte voor.”

Kos is ‘n alledaagse uitdrukking van kultuur en dra die spore van ‘n land se geskiedenis. Met die wydverspreide gebruik van die internet en die opkoms van netwerkwetenskap oor die afgelope twee dekades, is dit moontlik om ‘n groot aantal resepte en hul bestanddele te ondersoek, en om lande se resepte en bestanddeelkombinasies te vergelyk.

Baie studies in die buiteland het reeds bestanddeel-reseptenetwerke vanuit die oogpunt van netwerkteorie ondersoek, en het onder meer getoon dat verskillende lande en kulture unieke bestanddeelkombinasies in hul resepte gebruik.

Geen netwerkstudies het egter al Suid-Afrikaanse resepte ondersoek nie. Senekal sê die huidige studie sluit by sulke studies aan deur die bestanddeel-reseptenetwerk in Afrikaanse resepte te ondersoek.

Hiervoor is die voorkoms van 196 bestanddele in 6 863 Afrikaanse resepte ondersoek. Resepte wat op Suid-Afrikaanse webwerwe geplaas is, is ontleed om te toon watter bestanddele die meeste in Afrikaanse resepte voorkom en watter bestanddele die meeste saam met ander bestanddele voorkom.

Die bestanddele wat saam met die meeste ander bestanddele voorgekom het, is eier, sout, water, olie, peper, botter en kaas. Daar is bevind dat speserye die meeste saam met ander kosse voorkom, gevolg deur groente en suiwelprodukte, terwyl vleis minder gereeld by ander kosse voorkom, maar meer gereeld as seekos.

Speserye kom die meeste voor met geurmiddels en tweede meestal met groente; groente kom die meeste voor met geurmiddels en tweede meeste met speserye; en suiwel kom die meeste voor met geurmiddels en tweede meeste met speserye. Met ander woorde, speserye beklee 'n belangrike posisie in hierdie netwerk.

Op ‘n hoër vlak word resepte in soet en sout verdeel, en op ‘n laer vlak in groepe geregte onderskei in byvoorbeeld gebak (met bestanddele soos eiers, botter, suiker, room, melk, kondensmelk, sjokolade en brandewyn), hoofgeregte (met bestanddele soos knoffel, tamatie, uie, aartappel, vleis, rooiwyn, chakalaka en borrie), visgeregte (met bestanddele soos olie, suurlemoen, olyfolie, vis, heuning, avokado, stokvis en kreef), hoendergeregte (met bestanddele soos peper, hoender, swartpeper, pietersielie, sampioen, mosterd, tiemie en witwyn), en toebroodjies (met bestanddele soos kaas, brood, spek, ham, salami).

Enkele interessanthede word ook uitgelig, byvoorbeeld dat snoek, garnale en mossels by hoofgeregte tesame met bogenoemde bestanddele aangetref word eerder as met ander seekos; dat die seekosgroep baie bestanddele bevat wat ook in slaaie voorkom; dat Marmite by hoofgeregte gevind word, terwyl Bovril by toebroodjies gevind word; en dat ‘n klein groepie onderskei is waar pynappel saam met bier gegroepeer is.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.