South Africa
Bekende aktrise Franci Swanepoel sterf─── 06:36 Mon, 17 Oct 2022
![Bekende aktrise Franci Swanepoel sterf Bekende aktrise Franci Swanepoel sterf | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/1f7cc21a-24d7-4b8a-a262-8611812af001.jpg?crop=0,28,342,220)
Die bekende aktrise Franci Swanepoel (50), veral bekend vir haar rol as Toeks Joubert op die M-Net-sepie Binnelanders, is Sondag dood gevind.
Volgens berigte is Franci in haar slaap dood en is Sondagoggend gevind.
Die oorsaak van haar dood is nog nie bekend gemaak nie.
Franci is in Johannesburg gebore en het aan die Hoërskool Linden gematrikuleer. Sy het in die vermaaklikheidsbedryf groot geword en het vanaf vyfjarige ouderdom in radiodramas verskyn, insluitend Leon van Nierop se Stralerjakkers.
Haar TV-loopbaan het in 1980 begin toe sy in Mtunzini Spa, onder regie van Stephan Bouwer, gespeel het.
Dit is gevolg deur die rol van Gesie in PG du Plessis se Koöperasiestories; en rolle in Woestynblom en Iemand om lief te hê, deur Jan Scholtz.
Nadat sy 'n graad in drama aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het, het sy ook oorgegaan na aanbieding, nuuslees op kykNET en aanbied van programme soos Swerftyd en Fiesta (wat sy ook vervaardig het).
Franci was ook 'n kontinuïteitsaanbieder vir SABC2.
Volgens haar Wikipedia-bladsy het sy in haar loopbaan in meer as 200 produksies verskyn.
Die aktrise Lizz Meiring het in ‘n huldeblyk op Twitter haar as 'n “briljante en geliefde aktrise” beskryf.
“Benewens haar uitsonderlike talent, klas en intelligensie was Franci 'n besonderse mens. Warm, opreg, eerlik. Soveel omgegee vir ons bedryf.”