On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Offbeat

Weird Wide Web – Kind sien ‘regte monster’ onder sy bed

───   15:25 Mon, 07 Apr 2025

Weird Wide Web – Kind sien ‘regte monster’ onder sy bed | News Article

’n Kansas-oppasser het die skok van haar lewe gekry toe sy vir ’n kind probeer wys het dat daar geen “monster” onder sy bed is nie, net om ’n volslae vreemdeling te kry wat daar wegkruip.

Dit klink soos iets uit ’n goedkoop griller, maar dit het regtig net ’n paar dae gelede in Kansas gebeur. Die oppasser het kinders in die dorp Great Bend opgepas en het probeer om ’n peuter te kalmeer nadat die kleintjie beweer het daar’s ’n “monster” onder die bed. 

Dis een van die mees algemene vrese by jong kinders en die maklikste manier om hulle gerus te stel is gewoonlik om self te kyk en vir hulle te wys daar’s niks om voor bang te wees nie. Maar in hierdie geval was daar wel iemand onder die bed – ’n onbekende man wat daar weggekruip het, en niemand weet vir hoe lank nie.

Toe die oppasser vooroor buig om onder die bed te kyk, het sy reg in die gesig van die man vasgekyk. In plaas daarvan om paniekerig te raak – soos die meeste mense sou doen – het sy die indringer gekonfronteer en selfs met hom in ’n woordewisseling en stoeiery betrokke geraak waarin een van die kinders omgestamp is. 

Die man het daarin geslaag om te ontsnap, maar die oppasser het dadelik die owerhede in kennis gestel, en die verdagte is kort daarna in hegtenis geneem.

Die sogenaamde “monster” onder die bed is geïdentifiseer as Martin Villalobos Jr.  (27), wat vroeër in die huis gewoon het, maar ingevolge ’n beskermingsbevel die huis verbied is. 

Hy kon egter duidelik nie wegbly nie en nou staar hy ernstige tronkstraf in die gesig. Hy word in die distriksgevangenis aangehou, met borgtog op $500 000, en staan tereg op aanklagte van verswarende huisbraak, aanranding, kindermishandeling, regsverydeling, en die oortreding van ’n beskermingsbevel.

Lees meer.

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.