Offbeat
Weird Wide Web: Resensent se TikTok-towerstaf red restaurant─── 15:26 Fri, 20 Jan 2023
'n Las Vegas-pizzeria wie se deure amper moes toemaak weens 'n tekort aan klante, sing nou 'n ander deuntjie nadat 'n bekende kosresensent op TikTok lofliedere oor hul kos gesing het.
TikTok-kosresensent Keith Lee het vroeër vandeesmaand 'n video met sy miljoene volgelinge gedeel wat die lot van Frankensons, 'n nuwe Las Vegas-restaurant wat onder meer pizza en hoendervlerkies bedien, verander het.
Hy vertel hoe 'n werknemer van Frankensons hom gekontak het en hom gevra het om hul restaurant te resenseer. "Ons dink die kos is heerlik, maar ons het nie klante nie."
Lee het besluit om te gaan inloer maar het nie laat blyk dat hy 'n kosresensent is nie.
"Die eienaar, Frank Steele, het uitgekom om my bestelling te neem, en ons het oor die besigheid begin gesels."
Lee sê Steele se vriendelikheid het bygedra tot die "onberispelike diens by Frankensons".
Lees ook: Weird Wide Web: Goeie ouens eindig altyd laaste!
In sy TikTok-resensie gee hy sy eerlike mening oor Frankensons se hoendervlerkies, pizza en knoffelknope (brood in die vorm van 'n knoop).
Steele, wat maar net vier maande tevore sy jarelange droom om 'n restaurant te begin, verwesenlik het, het geen idee gehad dat Lee 'n legio TikTok-volgelinge het nie. Hy sê sy telefoon het binne ure nadat hy met Lee gepraat het, begin lui en het nog nie opgehou nie.
"Ek het die afgelope twee dae meer hoendervlerkies verkoop as in die afgelope vier maande. En in twee dae meer knoffelknope gemaak as ooit tevore."
Lees meer hier.