On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Minister dring aan op drastiese biosekuriteitsmaatreëls teen bek-en-klouseer

───   04:10 Fri, 18 Apr 2025

Minister dring aan op drastiese biosekuriteitsmaatreëls teen bek-en-klouseer | News Article
Foto: Getty Images

KwaZulu-Natal worstel met 147 aktiewe uitbrekings van bek-en-klouseer (BEK), en minister John Steenhuisen sê “genoeg is genoeg”.

Die minister van landbou, John Steenhuisen, het die departement van landbou opdrag gegee om dringend die nodige aksieplanne en stappe te implementeer om die verspreiding van bek-en-klouseer (BEK) in KwaZulu-Natal doeltreffend hok te slaan.

Tydens ’n onlangse besoek aan die provinsie het verskeie boere en gemeenskapsleiers hul kommer uitgespreek dat die departement nie voldoende optree nie. “Hierdie tekort aan daadwerklike aksie bedreig boere se lewensbestaan, die landboubedryf en die ekonomie. Dit moet onmiddellik stop,” het Steenhuisen gesê.

Toename in uitbrekings en uitbreidings van BEK

Ondanks pogings sedert die uitbreking van die SAT2-BEK-stam in 2021, het nuwe gevalle buite die verklaarde siektebestuursgebiede (SBG) ontstaan. Die minister is dus verlede maand genoodsaak om die grense van die gebied uit te brei.

“Die voortgesette uitbrekings, tesame met die stadige vordering in die verkryging van entstowwe en versterking van biosekuriteit, hou ernstige risiko’s in. Ek het die departement opdrag gegee om alle struikelblokke uit die weg te ruim sodat entstowwe betyds afgelewer kan word,” het hy gesê.

Minister se dringende opdragte

Steenhuisen het verskeie onmiddellike aksies beveel, onder meer:

  • Samewerking met die SAPD en Padverkeersbestuurskorporasie om padblokkades en diereverkeer te bestuur;
  • Identifisering van alternatiewe veemarkplekke en abattoirs binne die DMA;
  • Voorsiening van voldoende entstowwe vir 'n omvattende inentingsveldtog;
  • Oorweging van ’n rampverklaring in die provinsie; en
  • Noukeurige monitering van die permitstelsel.

Nasionale biosekuriteit onder die vergrootglas

“Die huidige beheermaatreëls is nie voldoende nie. Die Wet op Dieresiektes vereis dat eienaars die verspreiding van siektes keer, maar dit moet ondersteun word met daadwerklike regeringsoptrede,” het die minister beklemtoon.

Dit sluit in verskerpte toesig, ferm afdwinging van wetgewing en ondersteuning aan boere om biosekuriteit effektief toe te pas.

Situasie in Oos-Kaap verbeter, maar BEK bly

In die Oos-Kaap het geen nuwe kliniese gevalle sedert einde Julie 2024 voorgekom nie. Die laaste positiewe plase toon geen simptome sedert September nie. Die opheffing van SBG-beperkings is egter vertraag weens onlangse verdagte resultate op twee plase – waarvan een reeds negatief teruggekom het.

Bewegingbeheer en wetlike vereistes

Beheermaatreëls van Oktober 2022 bly van krag:

  • Beweging van gesplete hoefdiere vereis ’n gesondheidsertifikaat.
  • Nuwe diere moet vir minstens 28 dae van ander geïsoleer word.

Boere word gemaan om dierbeweging te beperk en slegs diere van skoon plase met sertifikate aan te koop. Verdagte simptome (speekselvloed, blase in die bek, mankheid) moet onmiddellik aan staatsveeartse gerapporteer word.

BEK is ’n beheerde dieresiekte ingevolge die Wet op Dieresiektes, en enige versuim om die regulasies na te kom, hou ernstige gevolge in vir die bedryf.

OFM Agri/Verklaring

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.