Agriculture
Paasfees 2025: Boodskappe van dank en hoop aan landbou─── 04:22 Fri, 18 Apr 2025

Georganiseerde landbou in Sentraal Suid-Afrika deel hul Paasfeesboodskappe met die gemeenskap.
Vrystaat Landbou het hul waardering uitgespreek teenoor boere regoor die provinsie. In ’n spesiale Paasboodskap het Gernie Botha, hoofbestuurder van Vrystaat Landbou, hul harde werk en onwrikbare toewyding geloof.
“Boerdery is nie net ’n beroep nie – dis ’n lewenswyse wat geduld, volharding en ’n diep verbintenis met die natuur vereis.” Hy vergelyk die werk van boere met die herlewingsiklus van die natuur self – van reën tot oes, van groei tot rus – en sê dit getuig van geloof in die toekoms.
Met die Paastyd as agtergrond, herinner Vrystaat Landbou boere daaraan dat hul arbeid nie net voedsel op tafels bring nie, maar ook die gees van gemeenskap en samehorigheid versterk. “Mag hierdie Paasfees vrede, vreugde en hoop bring. Mag jy weet dat jou pogings nie net ekonomiese vooruitgang bewerk nie, maar ook diep spore van gemeenskapsbou los.”
Vrystaat Landbou spreek hul opregte dank uit teenoor boere en hul gesinne vir hul onbaatsugtige diens aan die land. “Ons wens julle ’n geseënde Paasfees toe – vol vernuwing en die belofte van ’n oorvloedige jaar vorentoe. Baie dankie vir alles wat julle doen.”
Te midde van ’n seisoen vol uitdagings én seëninge, het Agri Noordwes president, Willem de Chavonnes Vrugt, boere bedank vir hul volharding en diens aan voedselsekerheid in Suid-Afrika. “Ons produksieseisoen was weereens vol onsekerhede, maar ons is dankbaar vir die goeie reën wat geval het.”
Hy wens veral sterkte toe aan boere wat nou in die nat lande moet oes, en spreek waardering uit vir die positiewe tendense in vleispryse. Volgens De Chavonnes Vrugt is boere in Suid-Afrika gewoond aan risiko’s – en goed toegerus om dit te bestuur. “In ’n wêreld waar onsekerheid toeneem, is ons in die landbougemeenskap gewoond aan die hantering van risiko. Ons weet hoe om aan te hou en saam deur storms te werk.”
Hy het ook sy dank uitgespreek teenoor almal wat betrokke is by georganiseerde strukture soos landbou-unies en bedryfsorganisasies. “Ons het mekaar nou meer nodig as ooit. Deur saam te werk, versterk ons nie net ons sektor nie, maar ook mekaar.”
De Chavonnes Vrugt moedig die landbougemeenskap aan om Paasfees as ’n tyd van hernuwing te gebruik. “Mag hierdie tyd ons herhinner aan waar ons krag en inspirasie vandaan kom. Geniet dit saam met vriende en familie, en kom ná Paasfees met hernude ywer terug – om gesonde kos vir ons mense te produseer.”
Met Paasfees wat nuwe lewe en hoop simboliseer, het Dirk Krapohl, uitvoerende hoof van Agri Noord-Kaap, gesê dié seisoen herinner ons aan die belofte van hernuwing.
“In hierdie besondere tyd vier ons nie net die opstanding nie, maar ook die krag van gemeenskap, geloof en volharding.” Hy wens lede vrede, rus en geleentheid tot refleksie toe, en bid dat die vreugde van Christus se opstanding boere se harte sal aanraak.
Krapohl het sy waardering uitgespreek vir lede se volgehoue betrokkenheid by Agri Noord-Kaap en hul toewyding aan die landbousektor. “Mag hierdie nuwe seisoen vir julle en julle gesinne vrugbaarheid en seën bring. Mag Paasfees ons almal aanmoedig om met hoop en moed aan te hou boer. Geseënde Paasfees aan elkeen van julle.”
OFM Agri cg