Agriculture
Vloedgeteisterde Bloemhof: ‘Toesig is nie insig nie’─── 05:00 Thu, 17 Apr 2025

Agri Noordwes het skerp kritiek uitgespreek op die minister van water en sanitasie, Penny Majodina, ná wat hulle beskryf as ’n “frustrerende en vernederende” besoek aan die vloed-geaffekteerde Bloemhof-gebied vroeër hierdie maand.
Volgens ’n mediaverklaring van Agri NW het Majodina, vergesel deur die burgemeester van Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit, uitlatings gemaak wat nie net feitlik onakkuraat was nie, maar ook sonder empatie of begrip vir die erns van die situasie.
Besluite oor damvloei gekritiseer
Die organisasie sê die departement het versuim om tydig op weerwaarskuwings te reageer en het eers begin om groot volumes water uit die Bloemhofdam vry te stel toe dit reeds 112% van kapasiteit oorskry het. Intussen was die Vaaldam reeds op 114%.
“Die Departement het op 9 April die uitvloei van die Bloemhofdam met 50% verhoog – tot 3 000 m³ per sekonde – terwyl die Vaaldam net 807 m³ per sekonde laat uitvloei het,” vertel hoof uitvoerede beampte, Naudé Pienaar. “Hierdie besluit het direk bygedra tot die oorstroming van byna 18 500 hektaar.”
Onvoldoende insig en voorbereidings
Agri NW meen die departement het telkens versuim om te leer uit vorige oorstromings, en dat senior amptenare sonder voldoende kennis of ervaring die vloedgebiede besoek het. “Toesig is nie dieselfde as insig nie,” sê Pienaar.
Die organisasie dring ook aan op die bekendmaking van die nuutste veiligheidsverslag oor die damwal, sowel as besonderhede van instandhoudingswerk en die betrokke kontrakteur. “Ten spyte van die departement se bewering dat die dam ‘stabiel genoeg is’, is ons nie bewus van enige voltooide of lopende instandhouding aan die damwal die afgelope jaar nie.”
Bloemhof River Lodge is een van die persele wat onder water was en skade gely het. Video: Facebook
Oproep tot daadwerklike leierskap
Pienaar sê dit sal ware leierskap verg om toekomstige rampe te voorkom – leierskap wat insig put uit toesig, saamwerk met kundiges, en voorbereid is op veranderende klimaatstoestande. “Misleidende verslae en arrogante amptenare gaan nie help nie. Ons benodig empatie, kennis, en ferm optrede,” sê hy.
Die organisasie betuig hul medelye aan alle gemeenskappe wat deur die oorstromings geraak is en onderneem om voort te gaan met sinvolle betrokkenheid by bevoegde owerhede om volhoubare dam- en waterbestuur te verseker.