Agriculture
Trump-aanbod: Saai gaan help met koördinering vir boere se aansoeke─── 09:52 Sat, 08 Mar 2025

Saai sal die belangstelling in pres. Donald Trump se aanbod aan Suid-Afrikaanse boere koördineer.
Gegewe die uitdruklike uitnodiging deur Trump aan Suid-Afrikaanse boere – waarin hy hulle ’n kortpad na Amerikaanse burgerskap bied indien hulle onveilig of vervolg voel in Suid-Afrika – het Saai, ’n netwerk vir familieboere, ooreengekom met verskeie organisasies, insluitend Solidariteit en AfriForum, om pogings te koördineer en individue en gesinne te begelei wat hierdie geleentheid wil benut.
Saai meen hul vennootskap met Agri All Africa bied hul waarskynlik meer ervaring as enige ander organisasie in die bystand van Suid-Afrikaanse, Zimbabwiese en Namibiese boere wat elders in Afrika, asook in Oos-Europa, Portugal, die Verenigde Koninkryk, Nieu-Seeland en Kanada belê het. Hierdie boere het of hul bedrywighede gediversifiseer of permanent geëmigreer.
"Uit ons ervaring het tussen 96% en 97% van die byna 5 000 boere waarmee ons in kontak is, nie geëmigreer nie, maar eerder hul boerderybedrywighede na ander lande uitgebrei."
Pres. Donald Trump se twiet. Foto: Facebook/Truth Social
"Elke boer wat Suid-Afrika om enige rede verlaat, is ’n verlies vir die land en vir die landbousektor en dit is ons doel om daardie getal so laag as moontlik te hou."
Op grond van navrae en belangstelling wat die afgelope twee weke ontvang is, sedert Trump vir die eerste keer die moontlikheid genoem het om vervolgde boere vlugtelingstatus en ’n vinnige pad na Amerikaanse burgerskap te bied, glo Saai dat daar drie kategorieë boere is wat moontlik hierdie aanbod sal oorweeg:
- Trauma-geteisterde gesinne: Hierdie gesinne was slagoffers van plaasaanvalle, plaasmoorde, grootskaalse diefstal, plundering, grondbesettings en oortredings – beide deur mense en vee wat doelbewus op hul grond gejaag word. Baie van hierdie gesinne het ’n punt bereik waar hulle nie langer hul gesinne of hul boerderyondernemings kan beveilig nie.
- Werklose broodwinners: Hierdie groep sluit middeljarige wit boere, plaasbestuurders en landbouwerkers in wat deur streng BEE-beleid gemarginaliseer is. Baie van hulle het alle moontlike maniere om ’n inkomste te verdien uitgeput en sien nie ’n lewensvatbare toekoms in Suid-Afrika nie.
- Jong aspirant boere: Hierdie jong, wit voornemende boere word met groot struikelblokke gekonfronteer in hul poging om toegang tot grond, kapitaal en ander hulpbronne te kry om hulself in die landbousektor te vestig. Gegewe die regering se duidelike voorneme om die nuwe drakoniese Onteieningswet te gebruik om grondbesit volgens bevolkingsamestelling te verander, sien baie van hierdie jong boere geen toekoms vir hulself in Suid-Afrika nie. Saai hou rekord van Suid-Afrikaanse jongmense wat jaarliks in die VSA en Ierland werk, en in 2025 sal ons kontak hou met 16 200 van hulle. Baie van hierdie jongmense sal die geleenthede aangryp wat in Suid-Afrika nie vir hulle beskikbaar is nie.
"As die grootste stem vir Zimbabwiese boere wat sedert 2000 hul grond verloor het, en as ’n organisasie wat nou betrokke is by die tradisionele en politieke strukture van Matabele-boere wat grond, vee en familielede in die Gukurahundi-veldtog 15 jaar vroeër verloor het, verstaan ons dat ons nie in die pad van gesinne kan staan wat weens swak beleid en ’n roofstaat in armoede en hopeloosheid verval nie.
"Baie van ons Zimbabwiese lede wie se plase gekonfiskeer is, sê dat hulle ’n leeftyd gewag het vir vergoeding, herstelbetalings en ’n kans om hul lewens te herbegin, maar dit het nooit gekom nie. As hulle hierdie aanbod 25 jaar gelede gehad het, sou hulle dit sonder huiwering aanvaar het!"
Saai het ’n ooreenkoms gesluit met ’n groot Amerikaanse regsfirma wat 100 uur se regshulp beskikbaar sal stel aan behoeftige boere en gesinne wat hulp benodig om hierdie geleentheid te benut – nou of in die toekoms.
Mediaverklaring dg ebk