On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

NWU-navorsers ontdek voordele van kameeldoringblaarmeel

───   21:00 Thu, 27 Feb 2025

NWU-navorsers ontdek voordele van kameeldoringblaarmeel  | News Article
Kameeldoringboom. Foto: Wikipedia

In die droë, sanderige grond van Suider-Afrika bring die kameeldoring, ook bekend as die mokala-boom, nuwe hoop vir veeboere wat volhoubare en gesonde veeproduksie nastreef.

’n Span navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) het bevind dat die aanvulling van lammers se voer met meel van die blare van Vachellia erioloba en geammonifiseerde mieliereste hul groei beduidend bevorder, die vleisgehalte verbeter en vetsuurprofiele verryk.

Die studie, wat in die Meat Science Journal gepubliseer is, is uitgevoer deur dr. Getrude Manakedi Chelopo en prof. Upenyu Marume van die Skool vir Landbouwetenskappe, asook die navorsingsnis vir Voedselsekuriteit en -veiligheid aan die NWU, in samewerking met prof. Arno Hugo van die Departement van Dierewetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hulle navorsing fokus op hoe Vachellia erioloba-blaarmeel, wanneer dit by geammonifiseerde mieliereste gevoeg word, lamproduksie kan beïnvloed. Die resultate toon lammers wat hierdie verrykte dieet ontvang, ’n beter gewigstoename toon, sagter vleis het met ’n gesonder vetsamestelling.

Prof. Upenyu Marume. Foto verskaf

Die doel van die studie was om die uitdagings van veeboere te takel, veral in streke met beperkte toegang tot hoëgehalte voer. Mieliereste, ’n algemene landboubyproduk, word dikwels as veevoer gebruik, maar het onvoldoende voedingstowwe om optimale groei te ondersteun. Deur die mieliereste met ammoniak te behandel en dit met proteïenryke Vachellia erioloba-blaarmeel aan te vul, het die navorsers gevind dat die voedingswaarde aansienlik verbeter.

“Die insluiting van blaarmeel van die Vachellia erioloba het die gemiddelde daaglikse gewigstoename en voerdoeltreffendheid verbeter, wat aandui dat dit ’n volhoubare bron van proteïen in dierevoeding is,” het die navorsers gesê.

’n Belangrike bevinding was dat lammers wat hierdie dieet ontvang het, ’n beter waterhoudende kapasiteit in hul vleis gehad het, wat dit sagter en sappiger maak. Verder het die vleis meer onversadigde vetsure bevat, insluitend omega-3 en omega-6, wat noodsaaklik is vir menslike gesondheid.

Dr. Getrude Manakedi Chelopo. Foto verskaf

Hierdie bevindings stem ooreen met die groeiende verbruikersvraag na gesonder en voedsamer vleisprodukte. Die studie dui daarop dat natuurlike plantgebaseerde aanvullings ’n bekostigbare en volhoubare alternatief vir konvensionele graangebaseerde voer kan bied, terwyl dit ook die vleisgehalte verbeter.

Met toenemende kommer oor die omgewingsimpak van veeboerdery, beklemtoon die studie die potensiaal om plaaslik beskikbare plantmateriaal by diere se voer te voeg. Die kameeldoringboom, wat natuurlik in semidroë streke groei, vereis minimale agronomiese insette, wat dit ’n kostedoeltreffende en ekovriendelike opsie maak.

Die kameeldoringboom floreer in Suider-Afrika, insluitend Suid-Afrika, Botswana, Namibië, en die westelike streke van Zimbabwe. Hierdie geharde boom, wat diep wortel skiet in droë grond, speel ’n belangrike rol in ekostelsels waar ander plante sukkel om te oorleef.

OFM/Verklaring cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.