Agriculture
Voedselprysinflasie verlangsaam verder in Januarie─── 06:00 Thu, 27 Feb 2025

Voedselprysinflasie het in Januarie 2025 steeds verlangsaam, ondanks die herberekening van die Verbruikersprysindeksmandjie.
Volgens data wat vandeesweek deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is, het verbruikersvoedselprysinflasie tot 1,5% gedaal vanaf 1,7% in Desember 2024.
Wandile Sihlobo, Agbiz-hoofekonoom, verduidelik hierdie afname is hoofsaaklik gedryf deur laer pryse in kategorieë soos “vleis”, “vis en ander seekos”, “melk, ander suiwel en eiers”, asook “vrugte en neute”.
“Die primêre drywers agter die afname in voedselprysinflasie bly die basiseffekte en die herstel van voorrade van verskeie produkte,” sê Sihlobo. “Aan die begin van 2024 het kwessies soos laer groentevoorrade weens beurtkrag se impak op besproeiing en die nagevolg van voëlgriep op pluimvee pryse laat styg. Ons is nou ver verwyder van daardie scenario, en voorrade het aansienlik herstel.”
’n Positiewe vooruitsig vir 2025
Sihlobo glo vooruitsigte vir voedselprysinflasie bly in 2025 relatief gunstig. Hy wys op die onlangse reënval oor groot dele van Suid-Afrika wat landbouproduksie bevoordeel het sodat boere ’n goeie area met gewasse beplant het.
“Die voorlopige aanplantingsdata wat verlede maand deur die Oesskattingskomitee vrygestel is, dui daarop dat Suid-Afrikaanse boere na raming 4,45 miljoen hektaar somergrane en oliesade in die 2024/25-seisoen geplant het – ’n toename van 0,3% teenoor die vorige seisoen,” verduidelik Sihlobo. “Ons sien ook soortgelyke en selfs beter produksietoestande vir vrugte en groente.”
Ten spyte van die positiewe vooruitsigte, waarsku Sihlobo graanverwante produkte het steeds ’n opwaartse risiko vir inflasie in die eerste helfte van 2025. Dit volg op die skerp styging in witmieliepryse weens swak oeste wat deur droogte beïnvloed is.
“Ons vermoed ook dat pluimveeprodukte en ander rooivleispryse in die komende maande matig kan styg weens hoër voerpryse, veral sojabone en geelmielies. Tog behoort hierdie prysverhogings nie te skerp te wees nie, aangesien verbruikers reeds onder druk is en die vraag relatief swak bly.”
Die algehele VPI het in Januarie 2025 tot 3,2% gestyg vanaf 3% in Desember 2024. Hierdie toename bly binne die Suid-Afrikaanse Reserwebank se teikenreeks, wat verdere stabiliteit in voedselpryse kan ondersteun in die maande wat voorlê.
OFM Agri cg