On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Tienie pak nóg ’n skeerrekord einde Februarie

───   ELZETTE BOUCHER 18:28 Wed, 12 Feb 2025

Tienie pak nóg ’n skeerrekord einde Februarie | News Article
Tienie du Plessis. Foto: Facebook/T24 Shearing

Dis weer terug na Gariep einde Februarie vir Suid-Afrika se eerste internasionaal-erkende skaapskeerrekordhouer, Tienie du Plessis, wat verlede jaar die wol van 363 merino-ooie laat waai het in net nege uur. Vanjaar is die uitdaging ietwiet groter.

Op 28 Februarie gaan Du Plessis poog om ’n duisend Merino-lammers binne 24 uur te skeer en ’n nuwe SA rekord op te stel.  Met ’n gemiddelde tempo van 43 lammers per uur, is dit ’n uitdaging wat uiterste fisiese en verstandelike uithouvermoë verg. Die poging sal plaasvind oor twaalf skofte van twee uur elk, waar Du Plessis en sy span deur die nag sal werk en altesaam 1 800 “skaap haaraf maak”.

Dié spesiale geleentheid, wat by Gariep, A Forever Resort plaasvind, word verder aangevul met verskeie aktiwiteite vir besoekers. Daar sal stalletjies wees met produkte en uitstallings, terwyl sportentoesiaste kan deelneem aan ’n 24-uur marathon waar deelnemers kan draf of fietsry.

Daarbenewens bied Bloem Aktief ’n uitdagende hindernisbaan aan op die Saterdagoggend, en daar sal ook ’n damesoggend met gassprekers wees. Een van die groot hoogtepunte is die Speed Run Challenge, waartydens vyf topskeerders – insluitend twee internasionale deelnemers uit Australië en Nieu-Seeland – meeding om te sien wie die meeste Merino-lammers in ’n twee-uur skof kan afskeer.

Buiten die rekordpoging en die opwinding van die dag, is daar ook ’n spesiale doel hieraan verbonde. Die skeergeleentheid ondersteun die Pink Drive-veldtog vir borskankerbewusmaking en fondsinsameling.

“Met die rekords wat ons doen, het ons rêgtig ’n behoefte om terug te gee. Ek dink nie daar is deesdae enige gesin of familie wat nié deur een of ander vorm van kanker geraak word nie. Borskanker lê vir my baie na aan die hart en ek het regtig ’n behoefte om met die skeerrekords wat ons doen, lig daarop te skyn en op een of ander wyse mense te help.”


Om vir hierdie uitdaging voor te berei, het Du Plessis intensiewe fisiese oefeninge gedoen. Hy spandeer daagliks tussen drie en vyf uur in die gimnasium en tot agt uur in die skeerhuis.

“Mens se lyf moet moet rêgtig fiks wees hiervoor en veral om ’n 24-uur skeerrekord aan te pak is nie is nie iets wat ons ligtelik opvat nie. Aangesien dit nie soos draf, hardloop of fietsry is wat jy net op een ding fokus nie.

“Wanneer jy besig is om te skeer, moet jy fisies konsentreer, want die skaap neem ook besluite en die skaap beweeg. Jy werk met ’n lewendige dier. So jou konsentrasie is ook baie, baie belangrik op die dag.”


Vir jongmense wat ’n loopbaan in skaapskeer oorweeg, beveel hy aan om by ’n skeerspan aan te sluit en soveel moontlik opleiding te kry. Hy noem dat dit ten minste twee jaar neem om kommersieel te skeer en selfs tot vyf jaar om op ’n topvlak te kompeteer.

“Die eerste stap – kom by ’n skeerspan uit; spandeer ’n paar dae of ’n dag saam met hulle om te sien of dit regtig vir jou is. Dan kom jy in kontak met my persoonlik of met Izak Klopper van NWKV dat ons jou by ’n skeerkursus uitkry. Jy gaan baie vinnig sien of dit regtig vir jou is, maar as dit vir jou is, is dit ’n fantastiese beroep.”

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.