Agriculture
Kenner waarsku produsente kan hoë boetes kry vir onverklaarde lone─── ROBYN SCHUTTE 05:00 Tue, 21 Jan 2025
Slegs 6 000 van die 31 000 geregistreerde produsente het hul lone vir die 2023-boekjaar verklaar aan die Vergoedingsfonds, met ernstige gevolge vir dié wat versuim het.
Stephan Pietersen, stigter van Work Accident Support, waarsku dat hoë boetes en oorskatte betalings produsente in finansiële moeilikheid kan dompel.
Die waarnemende vergoedingskommissaris het op 19 November in die Staatskoerant werkgewers finaal herinner om loonopgawes vir die 2023-boekjaar aan die Vergoedingsfonds te verklaar.
Volgens Pietersen is die verklaring van lone noodsaaklik om boetes en oorskatting van betalings te vermy. “Teen die sperdatum van 30 Junie 2024 het slegs 347 000 van die 941 000 geregistreerde besighede hul lone verklaar. In die landbousektor is die situasie selfs meer kommerwekkend, met net 6 000 van die 31 000 geregistreerde produsente wat aan die vereiste voldoen het.”
Gevolge van versuim
Produsente wat nie hul lone verklaar nie, loop die risiko van hoë boetes. Pietersen verduidelik dat die fonds ’n boete van 10% van die loonrekening kan hef, en toekomstige boetes, volgens die nuwe COIDA-wysigingswet, sal op 10% van die verklaarde lone gebaseer wees. Boetes kan ook toegepas word waar voordele vir werksbeserings reeds uitbetaal is.
Oorskatting van lone
Indien produsente versuim om hul lone te verklaar, kan die Vergoedingsfonds self ’n vooruitskatting maak, wat dikwels hoër is as die werklike lone. “Dit lei tot onnodige hoë rekeninge vir produsente,” sê Pietersen.
Wat produsente moet doen
Pietersen beveel aan dat produsente dadelik optree. Hulle moet:
1. Rekords aanvra by die fonds om die status van hul rekeninge na te gaan.
2. Hul lone verklaar en binne 30 dae betaal.
3. ’n Afbetalingsplan met die fonds tref indien nodig.
Toekomstige wysigings waarop produsente moet let
Produsente moet op die hoogte bly van nuwe regulasies, soos veranderinge aan watter tipe lone ingesluit moet word. Gewoonlik word hierdie inligting deur arbeidsorganisasies versprei.
“Produsente moet ook kennis neem van die sperdatums vir loonverklarings, wat gewoonlik in Maart of April aangekondig word,” voeg Pietersen by.
Hy vra produsente moet proaktief wees en die nodige stappe doen om boetes en ander komplikasies te voorkom.