On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Melkkraal-ondersoek volg ná beweerde korrupsie

───   ELZETTE BOUCHER 10:29 Mon, 06 Jan 2025

Melkkraal-ondersoek volg ná beweerde korrupsie | News Article
Rolspelers vergader oor Melkkraal-aangeleentheid. Foto: Facebook/Vrystaatse Landboudepartement

’n Ondersoek en nog gemeenskapsgesprekke sal volg nadat die Vrystaatse Premierskantoor, landboudepartement en nasionale grondhervormingsdepartement beraadslaag het met opkomende produsente op Odendaalsrus.

Mzwandile Nyhontso, die minister van grondhervorming, MaQueen Letsoha-Mathae, Vrystaatse Premier, Elzabé Rockman, Vrystaatse Landbou LUR en Hlobohang Mokhomo, burgemeester van die Matjhabeng plaaslike munisipaliteit het die vergadering met boere en gemeenskapslede gelei.

Dié vergadering Vrydag (3 Januarie) het gevolg nadat vyf begunstigdes, wat op Melkkraal boer, die provinsiale landboudepartement van korrupsie beskuldig het. SABC het op Kersdag berig die boere is na bewering deur beamptes van die provinsiale landboudepartement gevra om die grond te verlaat, maar hulle het nie oor ’n uitsettingsbevel beskik nie. Daar is ook na bewering 1 200 hektaar grond van hulle weggeneem en aan ’n ander boer gegee, wat hulle met net 600 hektaar laat om op te werk.

Volgens die landboudepartement boer die begunstigdes reeds sedert 2011 met toestemming op die grond. Die huurooreenkoms is van vyf jaar omgeskakel na ’n 30 jaar ooreenkoms.

Minister Nyhontso het aan die gemeenskap vertel die saak sal ondersoek word. “Ons gaan nie net berigte aanvaar nie, ons moet ons boerderygemeenskappe betrek en dan met moontlike oplossings vorendag kom om ons opkomende boere by te staan om kommersieel te word. Ons kan nie ons mense laat misluk nie.”

Intussen het Premier Letsoha-Mathae die boere die versekering gegee dat hulle kan voortgaan om op die grond te boer. 

“Die Vrystaatse provinsiale regering sal nie aandadig wees wanneer ongeregtighede teen die arm en kwesbare lede van ons samelewing gepleeg word nie, veral die boerderygemeenskappe. Hierdie onwettige uitsettings maak ’n bespotting van die regering se verbintenis tot sy program van grondhervorming en ondermyn pogings om onregte van die verlede reg te stel.”

OFM Agri cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.