On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Brande in Sentraal-Suid-Afrika: Hoe jy kan help

───   05:00 Mon, 09 Sep 2024

Brande in Sentraal-Suid-Afrika: Hoe jy kan help | News Article
Foto: Getty Images

“Die ondersteuning wat ons ontvang het, maak ’n groot verskil en ons hoop om steeds meer boere te help in hierdie uitdagende brandseisoen.”

Meer as 270 000 hektaar landbougrond het in die slag gebly ná onlangse veldbrande in Noordwes. Naudé Pienaar, adjunk hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê daar is reeds bykans drie miljoen hektaar die afgelope drie jaar deur brande vernietig. “Mense besef dikwels nie dat dit jare neem vir grond om ná sulke brande te herstel nie. Dit het verwoestende gevolge vir boere, veral in ’n tyd waar die ekonomie reeds onder geweldige druk is.”

Veldbrande het ’n merkbare impak op plaaslike beesboere en rooivleisprodusente, wat reeds sukkel met lae vleispryse en stygende produksiekoste. “Die aankoop van voer om vee aan die lewe te hou, is vir baie boere feitlik onmoontlik. Veral met die hoë brandstofpryse en veld wat in so ’n groot mate vernietig is, is dit ’n doodskoot vir boere se oorlewing.”

Agri Noordwes, saam met ander organisasies soos AfriForum, Caring Daisies, TLU-SA en Saai, is tans besig met gekoördineerde pogings om ramphulp en droogtehulp aan boere te verleen. Pienaar beklemtoon egter dat dit al hoe moeiliker raak om voer en ander hulpbronne vir die boere te bekom. “Ons het dringend voer en fondse nodig om dié boere te ondersteun wat swaar getref is deur die brande.”

Hy doen ’n beroep op die publiek om by te dra, hoe gering ook al. Finansiële skenkings kan by Agri Noordwes se rampfonds gemaak word, terwyl mense met voer wat geskenk kan word, aangemoedig word om direk met hom in verbinding te tree.


In die Vrystaat het gebiede soos Glen, Verkeerdevlei, Thaba Nchu, en Ficksburg deurgeloop. Volgens die Landboudepartement in die Vrystaat, is meer as 31 678 hektaar weiding verlore sedert die brande op 7 Julie begin het.  

Luidens Jack Armour van Vrystaat Landbou, het die brande groot dele landbougrond verwoes, wat dit vir boere baie moeilik maak om vee en landbou-aktiwiteite voort te sit.

‘Sommige brande het moontlik weens brandstigting begin’

“As die wind en hitte saamspeel, is dit bykans onmoontlik om ’n brand te keer," verduidelik Armour. Hy sê ook dat sommige brande moontlik weens brandstigting begin het, veral in die bergagtige gebiede waar die brande moeilik beheerbaar was.

Armour beklemtoon dat verskeie boereverenigings, insluitend dié van Karee en Ficksburg, hulp versoek het om die verwoesting te hanteer. Hy moedig mense aan om skenkings te maak via Vrystaat Landbou se webwerf, waar donasies maklik gedoen kan word. “Dit is die begin van die brandseisoen, en ons weet die uitdagings sal aanhou. Ons is dankbaar vir die skenkings wat ons reeds ontvang het, maar enige bykomende hulp sal baie waardeer word.”

Armour het ook die belangrikheid van samewerking tussen verskeie rolspelers, soos boere, regeringsdepartemente, en ander instansies soos die NG Kerk, beklemtoon. “Die brandbeskermingsverenigings speel ’n sleutelrol in voorsorgmaatreëls, terwyl Vrystaat Landbou hoofsaaklik fokus op hulpverlening ná brande. Die boereverenigings ken hul lede se situasies die beste, en hulle help ons om te verseker dat hulp regverdig en effektief verdeel word.”

Vrystaat Landbou moedig almal aan om betrokke te raak, aangesien die impak van hierdie veldbrande verder as individuele boere strek. “Ons werk hard om hulp so vinnig moontlik na die geteisterde gebiede te kry, maar die uitdaging sal aanhou. Ons doen ’n beroep op enigeen wat kan bydra, om asseblief te help.”

‘Brandopleiding gaan in vyf distrikte aangebied word’

In die Noord-Kaap is ’n inisiatief begin om vinnige reaksie op veldbrande te bied deur noodvoer na boere in hoë gevaargebiede te verskaf. 

Die projek, ’n vennootskap tussen Agri Noord-Kaap en Hino Toyota, is daarop gemik om onmiddellik hulp te verleen aan boere wie se veld deur brande vernietig is. “Die voer is vir daardie kritiese eerste dag waar boere nie toegang tot hul normale weiveld het nie,” sê Janine Byleveld van Agri Noord-Kaap.

AgriSA het ook fondse beskikbaar gestel om in die komende maand brandopleiding in vyf distrikte aan te bied. “Die opleiding sal fokus op kommersiële boere, opkomende boere, plaaswerkers en ’n klein aantal gemeenskapslede. Ons doel is om boere en werkers voor te berei op effektiewe brandbestryding om die impak van brande te verminder,” verduidelik Byleveld.

By hul onlangse kongres het Agri Noord-Kaap ook brandbestrydingstoerusting uitgedeel, ’n poging wat moontlik gemaak is deur die Agri Foundation en Agri Cape Foundation. Hierdie toerusting is noodsaaklik vir boere om vinnig en effektief op brande te reageer en sodoende verdere skade te beperk.

“Die ondersteuning wat ons ontvang het, maak ’n groot verskil, en ons hoop om steeds meer boere te help in hierdie uitdagende brandseisoen,” sê Byleveld.

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.