On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Vroue in Landbou: Peritum-leiers neem voortou

───   ELZETTE BOUCHER 05:00 Fri, 16 Aug 2024

Vroue in Landbou: Peritum-leiers neem voortou | News Article
Emmie Pietersen en Belinda Louw van Peritum Agri Institute in Bloemfontein. Foto: OFM

“Louw en Pietersen se bydrae gaan beslis nie ongesiens verby nie, en hulle vertel dis dikwels ’n emosionele oomblik wanneer hulle terugvoer uit die sektor ontvang oor die verskil wat hulle gemaak het.”

Hierdie skrywer sal hopelik vergeef word dat geen beter woord as “gatskop” opduik om die ongelooflik dinamiese raakvatters van Peritum Agri Institute in Bloemfontein te beskryf nie.

Met die intrapslag op die netjiese opleidingsperseel is daar nie net ’n warm verwelkoming nie; daar’s ’n tipe energie, ’n gons, ’n afwagting oor wat die volgende vernuwing is.

Emmie Pietersen en Belinda Louw was kollegas by die destydse Pos-en-telekommunikasiediens (vandag Telkom) toe hulle besluit het om ’n vrywillige uittreepakket te neem, hul kragte saam te snoer en hul eie potjie te krap.

‘Peritum beteken ‘gathering of experts’’

“Ons het nie geweet wat ons wil doen nie. In 2001 het ons een aand om ’n konkavuur gekuier en toe besluit dat ons in die korporatiewe bedryf menslikehulpbrondienste wil aanbied. Die eerste naam was toe Batho Pele HR & Management Consultants ‘die mense eerste’ in Sotho.”

Later is die naam verander na Peritum, Latyn vir ‘samekoms van deskundiges’.”

Pietersen is gebore op Randfontein, het skoolgegaan op Kokstad en het toe aan die Universiteit van die Vrystaat studeer. Louw is op Cradock gebore, voordat sy in die Vrystaat geskool is en ’n kwalifikasie deur Unisa verwerf het.

“Ons het nooit eintlik gaan sit en bepaal wie doen wat nie. Dit het half so organies gebeur. Ek het my rol gehad en Emmie het haar rol gehad. Ons vul mekaar eintlik ongelooflik goed aan,” vertel Louw.

Sy vertel ook met ’n glimlag hoe hulle baie entoesiasties begin het om sake te doen. “Ek het die fotostaatmasjien by my huis gehad en Emmie die faksmasjien by haar huis.

“Elke dag het ons bymekaar gekom en tenders weggestuur. Die eerste werk se tjek wat ons ontvang het, was R67 en ons het ’n bottel sjampanje gekoop!”

Die Pietersen-gesin in Maastrich, Nederland, by ’n Andre Rieu-konsert. Van links na regs: Xander (seun), Emmie, Geert Vaarwerk (familievriend) en Kobus (eggenoot). Foto verskaf

Pietersen voeg by dat hul heel eerste groot landboukliënt so beïndruk met hul dienste was dat hulle ál meer verwysings uit die bedryf begin kry het, soveel so dat hulle nou vandag al ’n volwaardige tersiêre instelling is wat ook landbouvakke aanbied.

“Ek dink iets wat ons opgewonde maak om in landbou te bly werk, is die feit dat daar soveel integriteit is en nog diep waardes geld. Een van die goed wat ’n ou baie vinnig leer in landbou is: So groot as wat die sektor in Suid-Afrika is, so klein is dit as dit by reputasie kom.”

In ’n oogwink produktief

Sy vertel hul bydrae – en dis ook waarna hul strewe – is om graduandi aan die sektor te lewer wat werk- asook toekomsgereed is. “As ons studente intree tot ’n nuwe werkplek, dan wil ons hê hulle moet in ’n baie kort tydjie regtig produktief kan wees.

“Een van die mees bevredigende aspekte is wanneer die landboubesighede ons kontak en vra dat hulle met ons graduandi en met ons tweedejaars wil gesels om beroepe aan hulle bekend te stel.”

Belinda Louw en haar gesin. Foto verskaf

Louw benadruk ook weer watter deurslaggewende faktor kliëntediens is. “Jy moet die sektor ken; die sektor verstaan. Jy moet op die hoogte wees wat die nuwe tendense en ontwikkeling is.

“Dan ook die strukture, want daar is verskeie landboustrukture en rolspelers wat jy moet ken. En hou by jou waardes en beginsels.”

“Cultivate potential, harvest excellence,” is ’n slagspreuk wat Pietersen aanhang en wat nie net vir die besigheid geld nie. “Dit geld eintlik in jou totale lewe – jou werkplek, verhoudings, huwelik, gesin, vriendskappe, persoonlike groei en ontwikkeling.

‘Dis dikwels ’n emosionele oomblik wanneer hulle terugvoer uit die sektor ontvang’

“Ons almal kry so baie. Wat ons daarmee maak op die einde, gaan uiteindelik bepaal hoe groot die oes gaan wees.”

Louw en Pietersen se bydrae gaan beslis nie ongesiens verby nie en hulle vertel dis dikwels ’n emosionele oomblik wanneer hulle terugvoer vanaf die sektor ontvang oor die verskil wat hulle gemaak het.

Belinda Louw in Kuba. Foto verskaf

“Die verskil wat ons maak in die landbousektor, die verskil wat ons in elke boer en elke mens se lewe maak elke keer as ons terugvoer kry van studente of boere wat ná die opleidingsessie vir ons net vertel hoeveel het hulle geleer en wat die waarde van die opleiding is.”

Volhoubaarheid en die vermoë om genoeg voedsel te produseer ten spyte van klimaatsverandering, wat ’n groot uitwerking het op die sektor, is iets waarmee Peritum se vroue altyd wil tred hou en om kortliks op te som, te help om “kwaliteitvoedsel vir ’n honger wêreld” te voorsien.

OFM Agri/Elzette Boucher-Krüger mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.