On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Agriculture

Vrede: ‘Boerdery ’n beroep van hoop’

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Thu, 27 Jun 2024

Vrede: ‘Boerdery ’n beroep van hoop’ | News Article
Nkosana Mtambo van die Mtambo-boerdery in Vrede. Foto verskaf

“Op 21-jarige ouderdom het hy besluit om ‘n boer te word en het hy Mtambo-boerdery begin.”

Nkosana Mtambo, van die Mtambo-boerdery in Vrede, het ‘n diep-gewortelde liefde vir landbou wat reeds in sy kinderjare begin het. Hy het grootgeword in Gauteng op ‘n plot saam met sy oupa, ‘n kleinskaalse boer. Hierdie ervarings het Nkosana se passie vir boerdery aangewakker. 

Op die jong ouderdom van tien jaar het hy reeds take soos om die beeste in die oggend uit te laat, verrig. Sy familie se sake-agtergrond het ook ‘n groot invloed op hom gehad, omdat sy pa ‘n bekende sakeman in Gauteng was. Hierdie kombinasie van landbou en sake het Nkosana gevorm tot die suksesvolle boer wat hy vandag is.

‘Groot potensiaal was om die waardeketting te besit’

Nkosana het gesien hoe sy pa groot hoeveelhede beeste besit en besef dat daar ‘n groot potensiaal was om die waardeketting te besit – van die teel van beeste tot die verwerking daarvan. Op 21-jarige ouderdom het hy besluit om ‘n boer te word en het hy Mtambo-boerdery begin. 

Nkosana se oorgang van ‘n klein veeboerdery na ‘n suksesvolle landbou-onderneming was danksy sy jeugdigheid, energie, en vaardighede. Hy het opleiding in Indonesië ontvang oor hoe om van ‘n kleinskaalse boerdery na ‘n kommersiële besigheid oor te skakel. Hy het ook diversifikasie toegepas deur gewasse by sy boerdery te voeg wat hom gehelp het om sy eie veevoer te produseer en minder afhanklik van eksterne bronne te wees. Hierdie benadering het hom in staat gestel om sy maatskappy uit te brei en te diversifiseer.

Nkosana bestuur drie plase, waarvan twee gehuur is en een onder sy eie naam is. Die twee gehuurde plase is hoofsaaklik vir gewasse soos sojabone, suikerbone en geelmielies, terwyl die hoofplaas fokus op die teel van Bonsmara-beeste en die verbouing van graan. Hierdie diversifikasie help hom om sy eie veevoer te produseer en die geld binne sy boerdery te hou.

‘Hy is aangewys as die Vrystaatse Boer van die Jaar’

In 2021/2022 is Nkosana aangewys as die Vrystaatse Boer van die Jaar wat ‘n groot invloed op sy loopbaan en sy boerdery gehad het. Hierdie erkenning het hom selfvertroue gegee en hom gemotiveer om nog harder te werk en sy boerdery verder uit te brei. Dit het hom ook die geleentheid gegee om nasionaal mee te ding en sy drome om die beste kommersiële boer in die land te word, na te jaag.

Hy het verskeie uitdagings in sy boerdery beleef soos veldbrande, droogtes, en veediefstal. Hy het egter hierdie uitdagings oorkom deur volharding, harde werk en deur voorsorgmaatreëls te tref soos brandstroke. Hierdie ervarings het hom geleer om aan te hou en nie op te gee nie, ongeag die struikelblokke.

Nkosana Mtambo van die Mtambo-boerdery in Vrede. Foto verskaf

Nkosana se toekomsvisie vir Mtambo-boerdery is om uit te brei, meer werkgeleenthede te skep en ‘n groot rolspeler in die landboubedryf te word. Hy wil ook jongmense en vroue bemagtig deur kennis te deel en geleenthede te skep. Sy uiteindelike doel is om Mtambo-boerdery tot ‘n wêreldwye entiteit te ontwikkel.

Aan jongmense wat ‘n loopbaan in landbou oorweeg, gee Nkosana die raad dat boerdery geduld, harde werk, en toewyding vereis. Hy waarsku dat daar geen kortpaaie na sukses in boerdery is nie en dat dit langer neem om stabiele en suksesvolle bedrywighede op te bou. Hy moedig die jeug aan om nie moed op te gee nie en om voorbereid te wees op die uitdagings wat met boerdery gepaardgaan.

OFM/Agriculture

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.