Agriculture
Kommandowurm-uitbreking bevestig in Noord-Kaap─── 15:00 Fri, 28 Mar 2025

Die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming het ’n uitbreking van kommandowurm in drie distrikte van die provinsie bevestig.
Dit volg op berigte van boere in die ZF Mgcawu-, Pixley KaSeme- en Frances Baard-distrikte wat die teenwoordigheid van die plaag op hul plase aangemeld het.
Dit kom ná ’n vroeëre ondersoek in die John Taolo Gaetsewe-distriksmunisipaliteit, waar plaaslike boere vermoedelike Afrika-kommandowurmbesmettings aangemeld het. “’n Span is ontplooi om mielielande in Metsimantsi en Bankhara-Bodulong te assesseer, waar wurms ontdek is,” lui ’n verklaring van die departement.
“Die bevindinge het egter bevestig dat dit nie kommandowurms was nie. Terwyl die aanvanklike vermoedens in JTG uitgesluit is, het die verhoogde waaksaamheid gelei tot die bevestiging van uitbrekings in ZF Mgcawu, Pixley KaSeme en Frances Baard Distrikte.”
Die departement werk nou saam met alle landbou-belanghebbendes om die plae doeltreffend te bestry en het die volgende chemikalieë vir plaagbeheer verskaf:
- Decis, met die aktiewe bestanddeel Deltametrien (vloeibare ULV-formulering)
- Sumi Alpha, met die aktiewe bestanddeel Esfenvalerate (vloeibare ULV en stofpoeierformulering)
Identifisering van Afrika kommandowurm:
- Vroeë stadium (jong stadium): Grysgroen met wit-geel strepe wat langs sy rug loop.
- Laat stadium (volwasse stadium): Swart met ’n blou lyn tussen geel en swart lyne.
Die departement sal in samewerking met die nasionale departement opleiding vir veilige en doeltreffende plaagbeheer doen. “Voorligtingsbeamptes sal toegerus word met die nodige vaardighede om boere en plaaswerkers op te lei oor chemiese hantering, toedieningstegnieke en die gebruik van persoonlike beskermende toerusting.”
Indien nie behoorlik bestuur, kan Afrika-kommadowurmbesmettings aansienlike ekonomiese skade aanrig, veral aan grasse wat vir weiding gebruik word en belangrike landbougraangewasse soos mielies, sorghum, koring, suikerriet, rys en gierst. Hierdie wurms voed hoofsaaklik op blare, wat lei tot aansienlike oesverliese.
LUR Mase Manopole het die uitbreking en die impak daarvan op boere en voedselproduksie in die provinsie erken. “Ons verstaan die uitdagings wat hierdie uitbreking bied, en as ’n departement reageer ons aktief om die skade te versag en ons boere te ondersteun. Ons spanne sal die situasie monitor, leiding verskaf en die nodige maatreëls implementeer om die verspreiding van die Afrika-kommandowurm binne die provinsie te beperk.”
Die LUR het alle boere en landbou-belanghebbendes versoek om waaksaam te bly en enige vermoedelike besmettings by plaaslike landbouvoorligtingsbeamptes aan te meld vir onmiddellike optrede.