On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus: Duisende werkverliese in Vrystaatse landbousektor, regering geblameer

───   ELSABÉ RICHARD 13:30 Thu, 16 Nov 2023

Landbounuus: Duisende werkverliese in Vrystaatse landbousektor, regering geblameer | News Article
Foto deur Zen Chung/Pexels.

“Die provinsiale landboudepartement se program wat boere moet ondersteun, kom jaar ná jaar nie die mas op nie.”

Gebrek aan ondersteuning aan Vrystaatse boere deur die provinsiale regering kry die skuld vir amper 30 000 werkverliese in dié sektor die afgelope jaar. Statistieke SA se jongste syfers toon die Vrystaat is een van die provinsies waar indiensneming in die landbou ingekrimp het. Provinsiale DA-leier Roy Jankielsohn sê die provinsiale landboudepartement se program wat boere moet ondersteun, kom jaar ná jaar nie die mas op nie.

Intussen sê die nasionale Departement van Landbou hy is tevrede met die sektor se bydrae tot werkskepping. 61 000 werkgeleenthede is in die derde kwartaal in die landbousektor geskep, wat die indiensneming in dié sektor op amper 'n miljoen te staan bring. Die landbou kon laas in 1993 dié mylpaal bereik.

Wildvleisproduksie is in vele opsigte ’n beter opsie as kommersiële landbou. Ná die publisering van 'n Wildvleisstrategie om die bedryf te formaliseer, sê die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing: wild is van nature droogtebestand en bied beter weerstand teen peste en parasiete. Minister Barbara Creecy meen die produksie van wildsvleis is gunstiger vir die Suid-Afrikaanse omgewing.

Die landbougemeenskap sal teen Vrydagoggend weet wie is vanjaar se Toyota/Agri SA Jongboer van die Jaar. Finaliste sluit in Lukas Lessing van die Vrystaat, Gideon van Zyl van Noordwes en Jaco Pieterse van die Noord-Kaap. Ter plaatse besoeke aan finaliste het plaasgevind in September wat die jong boere 'n geleentheid gebied het om hul liefde vir die sektor ten toon te stel, deur beoordelaars onder meer te beïndruk met hul daaglike beplanning en plaasbestuur. 'n Nuwe Hilux-bakkie is op die spel.

Intussen is ‘n Vrystaatse Dohne Merino-boer aangewys as Voermol se Nasionale Skaapboer van die Jaar. Wikus Bekker boer in die Edenburg-distrik. Hy is bekroon op ‘n glansgeleentheid in Bloemfontein. Tydens dieselfde geleentheid is ’n Wes-Kaapse beesboer aangewys as Voermol se Nasionale Beesboer van die Jaar. Jason Carroll boer in die Franschhoek-omgewing met Swart Angus-beeste, ’n beesras waaroor hy passievol is.

OFM Nuus/Elsabé Richard-May  Daphné




@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.