Agriculture
Kampioenskaaphond inspireer volgende geslag deur YouTube─── ELZETTE BOUCHER 13:45 Tue, 29 Oct 2024
In skaaphondkringe het sy geen bekendstelling nodig nie. Ragni Pretorius, wat self al vier keer die nasionale kampioenskap gewen het en sedert 1986 borderkollies afrig, inspireer ook deesdae die volgende geslag hanteerders op ’n byderwetse manier.
Alexander Smit van Bloemfontein vertel hy het Pretorius en haar borderkollie Tess se vernuf op YouTube raakgesien en begin om by hulle leer. OFM Agri het met dié twee by die onlangse NAMPO Alfa buite Bothaville gesels.
Pretorius, wat op ’n plaas by Coligny in Noordwes woon, het einde September met Tess koning gekraai by die Nasionale Skaaphondkampioenskap op Witsand in die Wes-Kaap.
@ofm.agri Man se beste vriend en ‘n skaapboer se regterhand was ook onlangs een van die groot trekpleisters by vanjaar se NAMPO Alfa. Ragni Pretorius van Coligny het haar SA kampioen skaaphond, Tess, se vaardighede op die baan gewys, en ook een van haar aanhangers, Alexander Smit van Bloemfontein, met sy hond Max, ‘n kans gegun om sy staal te wys. OFM Inhoudsbestuurder, Elzette Boucher-Kruger het met hulle gesels…
? original sound - OFM Agri
“Ek is seker so oor die dertig jaar aan die gang met skaaphonde. Op die plaas begin met ’n skaaphond werk, toe eendag na proewe toe gegaan en gedink ‘dit lyk interessant’. Toe het die gogga gebyt,” vertel Pretorius.
“Ons het ’n paar skapies daar op die werf gehad, en ek was nie lus om agter hulle aan te hardloop nie,” sê Smit. “So toe kry ek vir my ’n skaaphond met die idee om hom op te lei.
“Ek het niks van dit geweet nie. So, toe gaan ek YouTube toe en ek begin video's kyk en êrens het ek op iets afgekom van Tannie Ragni.”
‘Sy hond weet instinktief wat om te doen’
Hy het kontak met haar gemaak en vir haar raad gevra oor hoe om sy hond, Max op te lei. “Toe hier by NAMPO Alfa soek ek ’n plek vir hom om ’n bietjie ander hondemaatjies te sien. Tannie Ragni vra toe of ons bietjie wil skaap werk.”
Dis amper moeilik om te glo dat dit die eerste keer is wat Smit en die ses maande oue Max op die baan is. Sy hond weet instinktief wat om te doen.
Hulle volg hul daaglikse roetine op die plaas met hulp vanaf Tannie Ragni wat op die kantlyn raad gee.
Ragni Pretorius, Alexander Smit en Max. Foto: OFM
Pretorius moedig toekomstige hanteerders aan om te onthou dat skaaphonde werkshonde is en moet kom van ouers wat gewerk het, en ook by die Suid-Afrikaanse Skaaphondvereniging geregistreer is. “Jy bou ’n baie goeie band met jou hondjie.
“Hy moet vir jou luister, voor jy skape toe gaan. Ek leer gewoonlik my hondjies om te bly en dan na my toe te kom as ek hulle roep. En dan as jy by skape begin, doen dit in ’n kleinerige area met diere wat al gewoond is aan ’n hond.”
Op die vraag of Smit sy hand voortaan aan kompetisies gaan waag is die antwoord ‘ja’. “Die vorige keer het dit gewerk toe ek gedoen het wat sy gesê het, so kom ons doen dit weer!”