Agriculture
Landbounuus: Vrystaat Landbou veroordeel plaasaanvalle ten sterkste─── ELSABÉ RICHARD 15:10 Thu, 01 Jun 2023

Vrystaat Landbou veroordeel die plaasaanvalle in die omgewing van Sasolburg en Oranjeville ten sterkste.
Drie en twee verdagtes is onderskeidelik in hegtenis geneem. Veiligheids- en risiko-analis Jane Buys sê hulle hoop die inhegtenisnemings lei tot suksesvolle vervolging. Buys sê die organisasie dra sy medelye oor aan die families en vriende van André van Biljon, die pa van oud-Spingbok-haker, Lukas, wat by Oranjeville aangeval en Dinsdag oorlede is. Sowel as Patrick Phale, 'n skaapwagter wat doodgeskiet is in die Zamdela-omgewing in die Vaaldriehoek. Albei voorvalle het die afgelope naweek plaasgevind.
Intussen het die Vrystaatse polisie nóg vier verdagtes in Bronville, Welkom, in hegtenis geneem nadat hulle 'n boer, sy vrou en haar vriendin op 17 Mei op hul plaas in Senekal aangeval en beroof het. Twee verdagtes het reeds in verband met dié voorval voorgekom in Senekal se landdroshof. Die boer en sy vrou was besig om inkopies af te laai nadat hulle teruggekeer het van Nampoe Oesdag, toe twee mans hulle oorval. Kort daarna het nog vier vermeende rowers opgedaag. Die verdagtes kom na verwagting Maandag op Senekal voor.
Die onlangse reënval oor dele van Sentraal-Suid-Afrika is goed vir boere se gemoed en gemeenskappe wat dit broodnodig het. Agri Noord-Kaap-president Nicol Jansen sê dit het ook 'n groot uitwerking op grondvog en weidingstoestande.
Beurtkrag jaag lewendehawe-produsente steeds 'n fortuin uit die sak. So sê Chris Derksen, wat weekliks die veilingspryse vir lewendehawe verskaf. Hy deel vandeesweek se veilingspryse.
EN
Suid-Afrika se grootste buitelug-, ontspannings- en leefstyl-tentoonstelling – Outdoor X – vind plaas van 2 tot 4 Junie. Besoekers kan uitsien na meer as 600 topgehalte-uitstallers uit alle uithoeke van die land. Outdoor X-uitvoerende hoof Liezel Versfeld sê die ekspo word gehou op die plaas Hartsfeld naby die Suikerbosrand Natuurreservaat tussen Heidelberg en Alberton.