Agriculture
Die vennootskap-besigheidstruktuur in landbou─── ELSABÉ RICHARD 06:00 Mon, 21 Nov 2022
'n Vennootskap is 'n vrywillige ooreenkoms tussen ten minste 2 tot 'n maksimum van 20 persone. Stephan Pietersen van Work Accident Support deel die basiese inligting wat landbouers sal help om die vennootskap-besigheidstruktuur beter te verstaan.
Administratiewe vereistes verbonde aan ‘n vennootskap
Die vennote sal ook besluit wie vir watter taak verantwoordelik sal wees.
‘n Vennootskap moet ook jaarliks finansiële state laat opstel, en daar moet natuurlik rekord gehou word van alle finansiële transaksies soos kwotasies en bankstate wat gewoonlik vir 'n tydperk van vyf jaar gestoor moet word. Dit is ook belangrik vir belastingdoeleiendes en om die winste te bepaal waarvoor elke venoot sal kwalifiseer.
LEES OOK: Die eenmansaak-besigheidstruktuur in landbou
Vennote is gesamentlik en afsonderlik verantwoordelik vir die skulde van die besigheid, soos ooreengekom in die vennootskapooreenkoms.
Skulde word betaal vanuit die vennootskap se rekening, en indien daar onvoldoende fondse is, sal elke vennoot persoonlik verantwoordelik wees vir die skulde.
Een van die grootste gevare van 'n vennootskap, ontstaan waar 'n vennoot die bates van ander in gevaar stel deur sekere aksies.
Belastingimplikasies van 'n vennootskap
Soos by eenmansake, moet vennote as voorlopige betalers geregistreer word. Die vennootskap betaal nie self belasting nie omdat dit nie 'n aparte regspersoon is nie.
Elke vennoot se gedeelte van die wins sal belas word, maar die wins sal eers by alle belasbare inkomste getel word vóór die belasting bereken word.
Dit is ‘n potensiële voordeel aangesien individuele vennote minder belasting kan betaal, maar aan die ander kant kan meer belasting ook betaal word as 'n vennoot se marginale belastingkoers hoër is.
Vennote, net soos by eenmansake, sal ook kapitaalwinsbelasting betaal in hul persoonlike kapasiteit. Die koers hier is laer as dié van private maatskappye en beslote korporasies.
'n Vennoot se gedeelte van die bates van die vennootskap sal deel uitmaak van die boedel, en sal ook onderhewig wees aan boedelbelasting.
Omstandigehede waaronder vennootskappe nie meer besigheid kan doen nie
- Wanneer 'n nuwe vennoot by die vennootskap wil aansluit of as 'n bestaande vennoot aftree;
- Wanneer 'n vennoot insolvent verklaar word;
- As ‘n vennoot sterf;
- Indien enige vennoot nie meer die funksies kan verrig nie soos in die ooreenkoms uiteengesit;
- As die vennote sou besluit om die vennootskap te ontbind; en
- Wanneer 'n vennoot die ooreenkoms verbreek het.
As ‘n vennoot sou sterf
Die vennootskap sal ontbind word en 'n nuwe vennootskap sal gestig moet word tussen die oorblywende vennote.
Die bates van die vennote sal gelikwideer word en die laste sal afgehandel word om die gestorwe vennoot se gedeelte aan die boedel oor te dra.