On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Saoedi-Arabië-uitvoerooreenkoms ontsluit geleenthede vir beesvleisprodusente

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 25 Oct 2022

Saoedi-Arabië-uitvoerooreenkoms ontsluit geleenthede vir beesvleisprodusente  | News Article

Suid-Afrikaanse beesvleisprodusente sal nou geweldig baat vind by 'n ooreenkoms wat Suid-Afrika met Saoedi-Arabië gesluit het om beesvleis uit te voer na dié land.

Louw van Reenen, die hoof uitvoerende beampte van die Beefmaster-groep, sê hulle verwag dat Saoedi-Arabië tot 1 000 ton beesvleis per jaar sal bestel. 

Sien onderstaande PODCAST

Hy sê hierdie ooreenkoms sal dan een van die grootste beesvleisuitvoermarkte tot nog toe vir Suid-Afrika wees.

Die ooreenkoms is onderteken toe die Minister van Landbou, Thoko Didiza, President Cyril Ramaphosa na Saoedi-Arabië vergesel het as deel van ‘n beleggingsveldtog. Die aankondiging van dié ooreenkoms is op Maandag 17 Oktober 2022 gemaak.

LEES OOK: #FMD: Rolspelers aangemoedig om verantwoordelik op te tree

Van Reenen deel verder met OFM-nuus dat die transaksie uiters positief is vir die Suid-Afrikaanse beesvleissektor, veral gegewe die talle uitdagings wat die bedryf vanjaar in die gesig gestaar het ná uitbrekings van bek-en-klouseer, hoë insetkostes, asook teen 'n onsekere ekonomiese agtergrond.

“Ons is baie opgewonde oor die ooreenkoms [tussen Suid-Afrika en Saoedi-Arabië], en dit kon nie op 'n beter tyd gekom het nie. Behalwe om nuwe handel te ontsluit, sal dit ons ook help om werksekerheid van die sektor oor die volgende jaar te handhaaf,” sê Van Reenen verder.

LEES OOK: Bek-en-klouseer – ‘n groot bedreiging vir SA se rooivleisbedryf

Hy voeg by dat amptenare van Saoedi-Arabië na verwagting voor Desember die land sal besoek om die verskillende fasiliteite te kom ondersoek en goed te keur. ‘n Gesondheidsertifikaat moet ook uitgereik en deur die betrokke departemente en amptenare onderteken word.

Van Reenen sê daar is reeds 'n teenwoordigheid van Suid-Afrikaanse produkte en bekende handelsmerke op die rakke in Saoedi-Arabië, en omdat die nasie 'n waterskaars land is, is daar die geleentheid vir voedselprodusente in Suid-Afrika om hul vars produkte uit te voer na die nasie. 

Hy sê die totale bilaterale handel tussen Suid-Afrika en Saoedi-Arabië het in 2021 R66 miljard beloop, en die beesvleissektor sal na verwagting in 2023 gunstig daartoe bydra.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.