On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Nasionale Jong Afslaerskompetisie weer by Bloemskou

───   08:10 Tue, 01 Apr 2025

Nasionale Jong Afslaerskompetisie weer by Bloemskou | News Article
Foto: Getty Images

Die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie vind vanjaar op Maandag 28 April tydens Bloemskou plaas. Die kompetisie bied jong afslaers tussen die ouderdom van 19 en 35 jaar die kans om hul talent en vaardighede op die verhoog te demonstreer.

Volgens Vincent Pike, die wenner van die 2023 streekskompetisie in Bloemfontein en ook die nasionale wenner, het die kompetisie ’n groot impak op sy loopbaan gehad. “As mens kyk na vorige wenners, sien jy hoe hulle name reeds groot geword het in die afslaersbedryf. Dit wys hoe belangrik en invloedryk hierdie kompetisie kan wees.”

Hy beklemtoon verder die blootstelling wat die wen van ’n streeksronde bied, onmiddellik nuwe geleenthede skep. “Ek kon onmiddellik meer betrokke raak by veilings en het selfs aan die Nasionale Jong Afslaerskompetisie in Bredasdorp deelgeneem. Hierdie titel het vir my soveel deure geopen, en ek is nou ’n voltydse afslaer in Bethlehem. Ek sien ook uit na die kans om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Calgary World Championships in Kanada in Julie vanjaar.”


Allan Sinclair, besturende direkteur van Vleis Sentraal Bloemfontein en gesoute afslaer, wat die kompetisie beoordeel, meen dat energie en entoesiasme kerneienskappe van ’n suksesvolle afslaer is. “Jou houding trek deur na jou kopers. As jy onseker lyk, verloor hulle koopkrag en verloor die veiling sy energie. Kennis is net so belangrik – sê eerder minder as om iets verkeerd te sê, want dit kan jou reputasie in die bedryf skade berokken.”


Vir enigiemand wat daarvan droom om ’n afslaer te word en binne die ouderdomskriteria val, is hierdie ’n gulde geleentheid.  

OFM Agri/Johan Gunter

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.