Agriculture
Transnet-staking kan land moontlik in 'n ressessie dompel─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Mon, 17 Oct 2022
Die Transnet-staking kan moontlik, indien dit vir ‘n lang tydperk voortduur, die land in ‘n ressessie dompel.
Só sê Dawie Roodt, ‘n ekonoom by die Efficient-groep, nadat daar reeds miljoene rande velore is weens die staking wat vanaf verlede Donderdag deur werkers voortgesit word.
Sien onderstaande PODCAST
Suid-Afrika gaan tans onder kragonderbrekings, hoë voedselpryse en wanbestuur van staatsinstelings gebuk, en kan nie nóú ook die nagevolge van die Transnet-staking dra nie.
Roodt sê selfs al gaan die land nie in ‘n amptelike of tegniese ressessie in nie, gaan dit steeds ‘n baie groot én negatiewe impak op die ekonomie hê.
ALSO READ: Costs mount as Transnet strike hits ports
“Ek dink wat ook belangrik is om te besef, dis nie asof Transnet ewe skielik ‘n probleem geword het nie, Transnet is eintlik al vir ‘n geruime tyd ‘n baie groot probleem.
“As gevolg van Transnet is daar baie - veral die uitvoer van hulpbronne - wat net eenvoudig misgeloop het omdat Transnet nie behoorlik funksioneer nie… Die impak op die ekonomie is werklikwaar enorm.”
Volgens Roodt reken sommige ontleders dat een dag se verlies aan produksie by Transnet 10 dae vat om in te haal.
Hy is ook bekommerd dat die gebeure in Suid-Afrika ‘n boodskap stuur dat die land nie ‘n goeie plek is om in te belê nie.
ALSO READ: Transnet, unions agree on picketing rules as wage talks continue
“So, toekomstige besigheid kan ook hierdeur geaffekteer word, en internasionale en plaaslike beleggers gaan nou twee keer dink voordat hulle in Suid-Afrika kom belê, want die boodskap is baie duidelik dat Suid-Afrika nie ‘n gunstige beleggingsbestemming is nie.”
Sitruskwekersvereniging
Die Sitruskwekersvereniging het ook sy kommer uitgespreek nadat Transnet ‘n force majeure by sy hawens aangekondig het. Die vereniging het met OFM-nuus gedeel dat hoewel dit die einde van die seisoen is, is daar nog 7 800 houers vrugte wat vanaf die hawens van Durban, Ngqura en Kaapstad verskeep moet word, wat deur die staking geraak kan word. Sitrusvrugte wat vir uitvoer uit die Wes- en Oos-Kaap bestem is, kan ook geraak word.
ALSO READ: Mining sector would be hardest hit by Transnet strike, says economist
Die regering se reaksie
Daar is intussen kommer uitgespreek in 'n gesamentlike verklaring deur die departemente van landbou, openbare ondernemings en arbeid oor die negatiewe impak wat die Transnet-staking op die Suid-Afrikaanse ekonomie het, veral dié sektore wat van Transnet afhanklik is vir hul logistieke dienste.
Die departemente sê dit is die regering se siening dat dit in die belang van die land sal wees om 'n spoedige oplossing vir hierdie dooiepunt te vind. Dit, omdat die land nie verdere werksverliese in ander sektore van die ekonomie en die onderbreking van invoer en uitvoer na en van Suid-Afrika kan bekostig nie.
Stakings deur vakbonde Untu en Satawu duur tans voort namate salarisonderhandelings voortduur.
Untu en Satawu het vroeër gesê hulle sal nie ‘n verhoging van minder as die huidige inflasiekoers van 7,5% aanvaar nie.