Agriculture
Korrekte landbou-subklas registrasie belangrik─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 08 Aug 2022
Artikel 83 van die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes versoek dat produsente jaarliks hulle loonopgawes aan die Vergoedingsfonds moet verklaar.
Volgens Stephan Pietersen, stigter van Work Accident Support, beskryf dié artikel ook hoe die produsent se rekening bepaal sal word na aanleiding van die lone wat verklaar is en die koers gebaseer op die produsent se subklas.
LEES OOK: Maak seker jou boerdery is onder die regte subklas geregistreer
Pietersen meld ook dat produsente moet weet onder watter subklas hulle val omdat dit 'n direkte impak op sy rekening het.
Die landboubedryf word in vier verskillende subklasse verdeel, naamlik:
- Veeboerdery;
- Grondbewering en bosbou;
- Gemengde boerdery; en
- Suiker- en teeboerdey.
Elke subklas word met 'n tarief geassosieer. “Ek dink die subklasse is selfverduidelikend, maar waarop ek klem wil lê is die gemengde boerdery [subklas]. As 'n produsent met vee boer, asook vrugte of groente oes, en dit met die behulp van trekkers doen, kan die produsent in dié subklas 'n laer tarief betaal in vergelyking met die subklas vir slegs veeboerdery.
LEES OOK: Die vier subklasse van landbou en hul tariewe
“Die verhouding tussen die twee tipes boerderye kan nie groter as 60/40 wees nie.
“ ‘n Gemengde boerdery betaal tans 'n tarief van 2.38, maar dit gaan verlaag na 1.65 in 2025. Dit, terwyl produsente wat in die subklas veeboerderye val, tans 'n tarief van 2.27 betaal, wat egter gaan verhoog na 2.65.
Pietersen verduidelik verder dat die Vergoedingsfonds die tariewe sal gebruik en dit vermenigvuldig met die salaris wat die produsent verklaar het om die rekening te bepaal.
Nadat die rekening bepaal is deur die Vergoedingsfonds, sal dit aan die produsent of 'n derde party, wat namens die produsent optree, per e-pos gestuur word en hierop sal die subklas, tarief, bedrag verskuldig, asook die betalingsdatum verskyn.
Die produsent kan ook die inligting gebruik om te bepaal onder watter subklas sy boerdery val.
LEES OOK: Nagevolge vir boere wat nie aan nodige vereistes voldoen nie
Die rekening moet binne 30 dae nadat dit uitgereik word, betaalbaar wees.
As 'n produsent agterkom dat sy boerdery nie in die korrekte subklas val nie, kan daar iets hieraan gedoen word. Pietersen sê daar is 'n proses waar die produsent kan aansoek doen vir die verandering van die natuur van sy besigheid deur 'n aansoekvorm te voltooi en stawende dokumente te verskaf.
“Daar is gevalle waar 'n plaas byvoorveeld omgeskakel is om verblyf te verskaf aan vakansiegangers of waar 'n boer slegs met vee geboer het, maar ook nou ook vrugte en groente oes.”
Pietersen herinner produsente opnuut dat loonopgawes jaarliks teen Maart verklaar moet word of wanneer die Vergoedingskommissaris dit aankondig.
“Dit is belangrik aangesien 'n boete vir die laat indiening uitgereik sal word. 'n Produsent moet nooit wag tot die laaste paar dae voor die sperdatum nie. Sodra die rekening bereken is, sal dit binne 30 dae betaalbaar wees.”
support@workaccident.co.za
064 360 2638